Hoe om mense in rou te help

March 16, 2015

GESKRYF VIR EN GEPUBLISEER DEUR NETWERK24

Ons vermy mense wat rou asof dit nooit met ons gaan gebeur nie. Asof ons geliefdes nie kan verongeluk, sterf aan ‘n ongeneeslike siekte of selfmoord pleeg nie.

Ek is nou kniediep in die rouproses. My bababoetie is ‘n maand terug oorlede. Sy borskas was te klein vir sy longe. Dit is ‘n tipe hel wat ek nie op enige iemand anders wens nie. So hier is ‘n lys van goed wat jy kan doen om my en ander mense wat rou te help.

1. Met jou woorde kan jy niks beter maak nie (maar wel erger)

Aanvaarde frases is, Ek is jammer, Ek dink aan jou, en variasies daarop. Los dit daar. Dit is genoeg. Om te rou is nie ‘n logiese, helder proses nie. Dit is ‘n hartseer wat soms voel asof dit jou van binne af gaan uitmekaar skeur. Kan jou woorde daarmee help? Nee.

Jou woorde kan dit wel erger maak. In my geval moes ek aanhoor, Die dood van special needs outjies is makliker. Hy is beter af. Hy het genoeg gely. Sy dood is ‘n offerande aan god. Bla, bla, bla. Hou jou bek. Jy is nie meer my maatjie nie. Nie eers op Facebook nie.

2. Is die persoon wat rou gelowig?

Glo dit of nie, iemand anders se rouproses is nie jou kans om jou geloof af te dwing nie. Indien die persoon wel gelowig is, gooi die bybelversies en psalms en gesange. Dit maak hulle beter voel. Hulle glo, min of meer, in dieselfde reëls.

Maar as die persoon nie gelowig is nie, sluk jou preek en gaan bid vir jou eie siel. Dit is neerhalend om te dink jou geloof is superieur en dat dit troos kan bring vir almal. Dit is ‘n reuse pyn in die hol.

3. Kos

Ja, dit is ʼn cliché, maar een wat werk, want meeste dae weeg die hartseer so swaar dat jy nie kan opstaan en kosmaak nie. So dra kos aan. Of maak jou deure en eetkamertafel oop. As jy ‘n treetjie verder wil gaan, hou in gedagte wat die persoon eet. (Alhoewel ek nie omgegee het wat mense my gee nie. Dit is die samesyn wat belangrik is.)

4. Die begrafnis is nie die einde nie

Hou aan bel. Hou aan boodskappe stuur. Hou aan vra hoe stukkend die persoon se hart is. En hou aan kos verskaf. Dit is na die begrafnis wat die grootste hartseer werklik inskop, wanneer die stof gaan lê het en die enorme gat in jou lewe jou vierkantig in die oë staar.

5. Luister

Wanneer jy bel, of oorkant iemand wat rou sit en eet, luister. Jy hoef nie raad te gee nie. Jy hoef nie wyshede kwyt te raak nie. Om te kan praat oor my boetie, en te praat met iemand wat werklik luister, is al wat ek wil hê.

6. Jou ongemak

Wanneer die bogenoemde luister oor die foon of oor ‘n geroosterde hoender jou ongemaklik maak, suck it up. Jy gaan eendag dieselfde ongemak in ander mense veroorsaak wanneer jy snot en trane by ‘n musiekkonsert huil oor jy jou boetie nooit weer gaan hoor lag nie. Jy gaan dan die hand op jou skouer voel, of die tissue aanvaar wat iemand aanbied, maar vir nou is jy die een wat jou ongemak moet in toom hou.

7. Doen maar wat vir jou moontlik is

Daar is verskillende maniere van ondersteun. As jy gewoonlik weghol wanneer jy emosie teëkom, as jy die ongemak nie kan verduur nie, maak kos of doen inkopies of stel bergfietsry voor.

8. Leer

As iemand die rouproses suksesvol aanpak, en heel aan die anderkant uitkom, maak nota’s van hoe hulle dit gedoen het, want jy gaan dit nodig kry. Daar is geen handleiding vir rou nie, daar is geen klasse om te loop nie en hierdie samelewing laat mense nie regtig toe om te rou nie.

9. Jou eie hartseer

Ons het almal weggesteekte hartseer. So as jy langs iemand sit wat rou, rou sommer oor jou eie stukkende hart ook. En as die persoon langs jou wíl hoor van jou moeilikheid, deel dit. Gedeelde hartseer is ligter.

10. Daag op

As jy nie in staat daartoe is om enige van die 9 punte toe te pas nie, daag net op. Spandeer die tyd. Wees daar. Ons onthou. Ons kan eendag terugdink en sê, Onthou jy daardie koppie koffie wat jy 3uur die oggend vir my gemaak het?

    Leave a comment

    Time limit is exhausted. Please reload the CAPTCHA.

Total: