Joburg in die winter

August 18, 2011

Op ʼn warm Joburg wintersoggend sit ek by ʼn bekende mark en slurp my flou, maar nietemin warm koppie koffie. Die son is uit, my organiese groente gekoop en gebêre in die kar en my sinushoofpyn aan die bedaar. Die lewe is lekker.

Voor my lê my manuskrip. Die een wat aanvaar is, nou al onder kontrak staan. Ek maak my potlood skerp en begin met hersiening.

Ek hoor hulle voor ek hulle sien. Die twee ou mense skuifel nader en gaan sit oorkant my by ʼn hout tafeltjie. Ek los die karakters wat ek self geskep het, wat ook ontstaan het as gevolg van ander mense, en ek hou die twee skelm dop.

Hulle het albei tuis-gebreide truie aan, truie wat al effentjies uitgedra is. Sy hele uitrusting, insluitende die deftige pet, is swart. Dit herinner hom seker aan ʼn jonger, gesofistikeerde self. Haar broek en trui is die tipe pers en die tipe wol wat ou mense van hou. Hy noem haar ‘darling’ en vra dat sy ʼn cappucino vir hom bestel.

En ek vang die oomblik tussen hulle. Sy wat instem en vir hom so mooi glimlag dat hy nie anders kan as om sy kop effens skuins te draai en terug te glimlag nie.

Daarna klim hy versigtig op die gehawende hout verhogie en trek die lap van die klavier af. Ah, dit is die Donderdagoggend mark pianis.

ʼn Vriendin stap nader en omhels die tannie. Ek vang gedeeltes van die gesprek. Haar telling is beter, sê sy. Die vriendin lyk verlig, druk haar vas en skuifel weg.

“Okay, Baby. Fire away,” sê sy.

Ek dink sy bedoel hy kan nou maar speel. Sy sit egter met ʼn Blackberry in haar hand, toe ek opkyk, en hy begin die email dikteer.

Dit tel nou al my spelfoute op, sê sy skaam.

Jy is nog steeds vinniger as ek, Darling, sê hy met daardie selfde glimlag.

    Leave a comment

    Time limit is exhausted. Please reload the CAPTCHA.

Total: