Vuil Wasgoed

December 1, 2017

Vuil wasgoed is ’n vars skop-skiet-en-donder-fliek. Dit is ook bitter snaaks. Ek voorspel dit gaan ’n lokettreffer wees, maar nog belangriker, dit kan ’n nuwe tipe gehoor teaters toe lok. Ons het tog nodig om agterstewes in die teatersitplekke te sit.

Van die stilering (Bennie se Chappies-onderbroek en TrompieT-hemp) tot die een-reël-wenners (“Dankie dat jy hier was”, “’n Bietjie gay is okay”, “Was dit Nicholis Louw?”) en Leandie du Randt se resting bitch face was als perfek.

Bouwer en Bennie speel die bumbling idiots so vrek goed. Hul werklike vriendskap, asook hul vriendskap met Stiaan, lei tot ’n gemaklike, amper familiêre kameraadskap tussen die hoofakteurs. Jy hou van hulle, snorre en al.

Die storie het interessante kinkels en die geweld is heel grafies sonder om oorboord te gaan. Van die scenario’s is te goed vir woorde. Ek dink nou spesifiek aan die toneel waar hulle die hele geld-optellery beplan in ’n crèche, op klein stoeltjies, by ’n klein tafeltjie, en ’n speelkaart gebruik om die roete uit te werk. Die film is die moeite werd net daarvoor, alhoewel Nico Panagio in aaklige bruin long johns jou ook sal laat grinnik.

Daar is ’n paar klein dingetjies wat pla. Die redigering kon bietjie strenger gewees het. Sommige tonele was te lank, of heeltemal oortollig. Ons snap die grappie die eerste keer, julle hoef nie daarop te hamer nie. (Die lokprent, daarenteen, was net lank genoeg, en het net genoeg gewys om mens lus te maak om die film te sien.)

Die skelms is ongelukkig nie geloofwaardig nie, wat veroorsaak dat jy nooit regtig glo Kevin en Wim is in gevaar nie.

Die film verskuif nie regtig die grense van internasionale crime capers nie (nie soos Baby driver die heist-genre op sy kop gedraai het nie), maar dit is tog ’n lekker byvoeging tot Suid-Afrikaanse, en veral Afrikaanse, films.

My enigste werklike probleem met die film is die gemiste geleentheid om Leandie du Randt, Simoné Nortman en Carmin Coetzer ten volle te gebruik. (Ek noem nie eers Mila Guy nie. As jy jou oë knip kan jy haar mis.) Die vrouens is vensterversiering, bloot daar om die mans te motiveer. Ek weet die is ’n broe-manse, maar dit beteken nie die vrouens hoef stereotiep en eendimensioneel te wees nie.

Leandie is kwaai. Simoné is oulik. Carmin is mal. Mila is ’n verpleegster (as jy nie jou oë geknip het nie). Jackie se meisie is doofstom en was skottelgoed. Joe se vrou word per abuis weggeblaas met ’n haalgeweer.

Vuil wasgoed is reeds snaaks, skerp en vars. Stel jou voor hoeveel beter dit kon gewees het as Leandie, Simoné en Carmin meer tyd en beter materiaal gegee was om mee te werk.

    Leave a comment

    Time limit is exhausted. Please reload the CAPTCHA.

Raaiselkind Previous post Raaiselkind
Wonderlus Next post Wonderlus
Total: