Wonderlus

December 1, 2017

2017 het reeds ongelooflike Suid-Afrikaanse films opgelewer. 2018 lyk nog meer opwindend. Een van die hoogtepunte gaan vir seker Wonderlus wees. Dit gaan interessant wees om te sien wat Suid-Afrikaanse gehore daarmee maak. ’n Paar tannies gaan omgekrap wees, dit is vir seker.

Regisseur Johan Cronje het brawe keuses gemaak – van die openingstoneel waar karakters wakker word langs vreemde mense, tussen die sonneblomme, in karre, op buffettafels, almal babelas, tot die verbysterende slottoneel, wat ek vir geen geld of goeie wyn sal verklap nie.

Die dialoog verras. Dit is hoe Afrikaanssprekende mense werklik praat; dit is onderwerpe waaroor mense werklik baklei. Die bakleiery tussen Lindie en Ruan is die tipe bakleiery wat ek al gehad het, wat jy al gehad het – daardie bakleiery oor alledaagse, simpel goed wat so belangrik vir ons word om onsself te beskerm. Dus, alhoewel die film ongelooflik snaaks is met tye, het Cronje nie ’n greintjie diepte prysgegee nie. Hy bly ook nie aan die veilige kant soos byvoorbeeld Vuil wasgoed nie. Die seks en naaktheid getuig daarvan. Die toneel tussen die kelnerin (Lea Vivier) en Pietie (Edwin van der Walt) is veral sexy en rou, maar noodsaaklik vir die film se narratief. Kyk uit vir Lea Vivier. Sy het nie verniet Beste Aktrise by die 2017-Silwerskermfees gewen nie.

Die kamerawerk is 90% van die tyd besonders. Die BMW in die sonneblomveld sal my lank bybly as een van die mooiste landskappe wat nog op film vasgevang is. (Ek wil graag weet waar hul sulke perfekte blomme gekry het.) Waar die drie vriende teen die einde van die film in die veld sit, het ook ’n indruk gemaak.

Beer Adriaanse en trawante sorg vir ’n gemaklike vloei van humor, menslikheid en gepeperde dialoog. Beer self gaan vir lank onthou word vir dié wenner: “Tiete is ons troosprys.”

Mila Guy moet uitgesonder word. Sy verleen ’n weerloosheid aan die bruid waarsonder die karakter dalk koud en gewetenloos sou voorkom. Welgedaan.

Wanneer jy die film kyk, voel dit asof die regisseur ’n sekere vryheid aan die akteurs gegee het om te ontspan en bloot te gesels. Ek dink aan die toneel by die dam waar die kelnerin en Pieter sit en gesels. Dit voel nie gejaag nie; dit voel nie asof elke skoot presies beplan en georkestreer is om by die begroting en tydlyn in te pas nie. Dit verleen ’n ontspanne, maar innemende kwaliteit aan die film.

Ek hou duim vas dat Wonderlus goed vaar by die loket sodat meer sulke films vervaardig kan word en die akteurs, regisseurs en produksiespanne boonop goed betaal kan word.

    Leave a comment

    Time limit is exhausted. Please reload the CAPTCHA.

Vuil Wasgoed Previous post Vuil Wasgoed
Total: