4 Mure, episode 1

January 18, 2021

Soos na die 1918 griep, voorspel slim mense dat ons na Covid-19, ook ʼn ‘roaring twenties’ fase gaan inbeweeg – musiek, boeke, kuns, films, seksuele avonture, gaan als blom. Terwyl ons wag vir dié groot opskop, braai ons alleen en Showmax ons alleen. Gelukkig is daar vrek goeie geselskap in die vorm van 4 Mure.

Positiewe

Regisseur Jaco Bouwer het die perfekte visuele geheel geskep met slim kamerawerk, stilering en kleurgradering wat soos ʼn handskoen in mekaar pas, en vlymskerp snywerk. Dit is ʼn lafenis vir die oë en kan op internasionale vlak meeding. ʼn Lafenis vir die ore is die dramatiese musiek wat opvlam, maar ook die kristalhelder klankontwerp wat ʼn ritme skep – die bottel teen die glas, die whisky wat geskink word, die sug, die voetstappe. Een, twee, een, twee, een, twee.

Dame Judy Dench en Dame Maggie Smith mag kompeteer om Brittanje se national treasure te wees. Ons het vir Lida Botha. Ons wen loshande. As sy in iets speel – reeks, film, toneelstuk – kyk dit om te sien hoe ʼn meester te werk gaan.

Bouwer maak ook goed gebruik hier van Beer Adriaanse se comedic tjops – of hy skerp dialoog op die regte moment moet lewer, en of sy tone moet krul, hy doen dit moeiteloos.

Negatiewe

Omtrent 60% in die episode in het die frenetiese energie my uitasem gehad. Ek sou ʼn klein ruskansie, ʼn rustigheid hier en daar, waardeer het.

Ek weet klug as ʼn genre is vergesog, uitspattig, maar met ʼn bietjie meer diepte kon 4 Mure nog meer van ʼn impak gehad het. Ek wou meer vir Ivan omgegee het. Ek vergelyk dit met die splinternuwe film, Shadow in the cloud ­– goeie genade, dit is toetental vergesog, lekker uitspattig, dit meng ʼn hele paar genres saam, maar jy is héélpad aan Maude se kant. Jy wil daardie gremlin self bydam.

Aanbeveling

Ek wag met ingehoue asem vir episode 2.

Total: