Die Vredesduiwe – wat ʼn heerlike verrassing (KykNET)

September 23, 2022

Die fliek vertel die verhaal van ’n nuwe dominee en sy eksentrieke vrou wat amok op ’n klein dorpie maak wanneer hulle ’n sangkompetisie vir die Erfenisdag-basaar van stapel stuur. Neels van Jaarsveld en Amalia Uys is te sien as dominee en mevrou-dominee en die res van die rolverdeling sluit groot name in soos Anel Alexander, Jacques Bessenger, June van Merch, David Isaacs, Abduragman Adams, Daneel van der Walt, Ilse van Niekerk, Jacques Theron en Athina Jansen.

Die bekende beskrywing made for TV boesem nie werklik vertroue in nie. Mens verwag ʼn veilige, voorspelbare, en vervelige produksie. Ligte, ligte vermaak. Die voorprent vir Die Vredesduiwe het wel my aandag geprikkel. Toe ek boonop sien Nicola Hanekom is die regisseur, het ek ʼn screener aangevra. Hanekom se naam dwing tog respek af, en sy stel nie teleur met Die Vredesduiwe nie. Behalwe vir ʼn oorhaastige ontknoping hier en daar, is hierdie rolprent wêreldklas en sal dit kan meeding by internasionale feeste.

Dit begin natuurlik met ʼn goeie draaiboek. ʼn Skerp draaiboek, vol donker humor, net die regte hoeveelheid diepte en ʼn hele paar tong in die kies oomblikke. Dit vermaak, dit boei en dit dra ʼn mooi boodskap oor sonder om stroperig of prekerig te wees. Dit is nogal ʼn behaling.

Die versameling kleurvolle karakters is volronde skeppings. Hulle is teatraal wanneer dit nodig is, maar nooit karikature nie. Hulle is goed geskryf, maar net so goed vertolk. Daar is nie ʼn vrot eier onder die hele groep akteurs nie.

Die kamerawerk is so goed dit val amper weg. Die natuurlike lig wat op plek gebruik word, is vreeslik mooi. Die fisiese humor is uitstekend. Daar is lieflike detail soos die tikmasjien tydens die kerkraadvergadering, sinspeel op die naam van die dorp ‘Misgery’, die gebruik van terme soos Mevrou Dominee, en Mevrou Dominee wat vir Dominee Izak ‘Saksels’ noem. Die lys is lank.

Die Vredesduiwe wys dat mens met ʼn eenvoudige, maar goeie draaiboek, slim regie en uitsonderlike vertolkings ʼn deksels goeie film kan maak. Die Vredesduiwe is eg Suid-Afrikaans, maar ook tog universeel.

Ek hoop KykNET bou hierop voort.

Total: