Incendies – die storie van ʼn ma

August 20, 2011

Oorspronklik gepubliseer opwww.sarie.com

Ek hoop vir die dag wanneer sinnelose oorlog, die uitbuiting van vrouens en die verwoesting van kinders se onskuld, ‘ou nuus’ is. Wanneer films soos Incendies, wat eenvoudig gaan oor die liefde van ʼn ma, nie meer so broodnodig is nie. Ons is nog ver van daardie dag af, maar by films soos hierdie kan ons iets leer.

Storie

Incendies begin met die lees van ʼn testament. Die erfporsie word gehalveer tussen die tweeling Jeanne en Simon. Eers moet elkeen ʼn brief aflewer. Jeanne moet die pa vind wat hulle geglo het is dood. Simon moet die broer vind waarvan hulle nie geweet het nie.

Simon rebelleer en sê hy het nou vrede, noudat sy ma, Nawal, afgesterf het. Hy bly in Kanada agter. Jeanne vat egter die eerste vliegtuig Midde Ooste toe.

Hoogtepunte

Soos die tweeling die ongelooflike storie oopvlek, spring die film tussen hulle hede en hul ma se interessante verlede. Vir die eerste twee ure vat die regisseur, Denis Villeneuve, jou saam deur die oorweldigende storie, die onverwagse ontwikkelings en hy bou spanning op. In die laaste paar minute, in een reël van ʼn brief, vat hy die hele film vas en breek hy met groot vernuf jou hart.

Nawal se lewe is tragies en sy ervaar die slegste wat die mensdom haar kan offer. Tog is die geweld, die uitbuiting nie so in jou gesig nie. Jy weet baie goed wat met haar gebeur, maar jy hoef dit nie in hierdie geval in sulke detail te sien nie. Dus stap jy nie moeg uit die teater uit nie. Inteendeel voel jy geïnspireerd deur haar liefde.

Laagtepunte

Ek sit gemaklik deur ʼn film van 2h en 10min. Dit is dalk te lank vir ander mense. My Schmaltz-meter het ook twee of drie keer amper aangeskakel, maar gelukkig is die melodrama tot die minimum gehou.

Vermaak vs. Kuns

Incendies is verseker nie so toeganklik soos byvoorbeeld die nuutste Marvel film, Captain America, nie, maar dan het hierdie Kanadese produksie baie meer hart en siel en ʼn baie belangrike boodskap om oor te dra.

Vir wie beveel ek dit aan?

Alhoewel Incendies nie op ʼn eerste ‘date’ aangevat moet word nie, sal ek dit andersins aanbeveel aan enige iemand wat hou van ʼn film met iets meer om die lyf.

Opsommend

Ten spyte van wat die wêreld aan haar doen, hou Nawal haar kop hoog en dra sy uiteindelik ʼn boodskap van hoop oor aan haar kinders, en aan ons, die kykers.

    Leave a comment

    Time limit is exhausted. Please reload the CAPTCHA.

Total: