Paardebloem – ‘n reuse verrassing

February 16, 2021

’n Weduwee besef sy is swanger en op haar ouderdom word sy gedwing om alles in haar lewe te heroorweeg… Dit is deel van kykNET se Storiefilmprojek van 50 TV-rolprente van sowat 50 minute elk, wat reeds in Desember begin het.

Daar is iets besonders aan ʼn draaiboek wat eenvoud, patos en vermaak suksesvol kan saamsmelt. Sit dan vier top akteurs by, plus ʼn opwindende nuwe regisseur (ek praat van jou, Tinarie van Wyk Loots), en jy het ʼn aangrypende film op hande.

Al vier karakters word in fyn detail uitgebeeld deur Marion Holm, Albert Pretorius, Neels Coetzee en Llandi Beeslaar. Marion sit haar karakter se verslaentheid met groot sorg om in hoop. Albert se kleuteragtige boelie is ʼn gruwel. Neels is die statige dokter en Llandi die vriendin waarop ons almal hoop.

Die bui van die film word in die kleurskema (en knee high sykouse) gereflekteer. Ons beweeg van bruin en room (en ʼn Trellidoor) aan die begin, na ʼn hoogswanger Marion in ʼn skarlakenrooi kraletjie skepping wat eers kosmaak, en dan gereedmaak om lewe te skenk.

Die geselsies tussen ma en seun, of tussen die twee vriendinne, is eg. Die gemaklikheid word aangehelp deur die kamera wat stadig heen en weer ‘pan’ tussen die twee betrokke karakters. Dit trek jou oog, jou belangstelling.

Die laaste toneel, wat ek nie gaan weggee vir enige geld of roem nie, is ʼn heerlike persent, ʼn bederf vir die siel.

Nog hiervan, asseblief.

The White tiger Previous post The White tiger
Total: