Bloedsuiers Movie: Onderhoud met Francois van Coke, Inge Beckmann (In Afrikaans)

April 13, 2011

Kom nou, ʼn Afrikaanse vampier fliek wat gedeeltelik in die Klein Karoo afspeel, met onder andere Inge Beckman as die tawwe vampierjagter Lizelle (nogal), en Francois van Coke as Ettiene, ja wag vir dit, ʼn vampier, kan verseker net gatskop.

As julle ook so dink, haas julleself na www.bloedsuiersmovie.com en help met die maak van die fliek. Ja, vir so min as R30.00 kan ons besluit watse films ons wil sien. In ruil daarvoor kry jy toegang tot foto’s, nuus, en afhangende van jou bydrae, merchandise soos kepse, waterbottels, ens.

Neem deel aan die kompetisies en jy staan ʼn kans om in die fliek self of in die musiek video vir die Inge Beckman/Francois can Coke temaliedjie te speel. Exciting stuff!

Die onderhoud met Francois

Ek het via email met Francois en Inge gesels oor hulle onderskeidelike rolle. Hier is Francois se antwoorde.

Reney Warrington: Is Bloedsuiers die begin van ‘n glorious acting career?

Francois van Coke: Hahah. Ons sal maar moet sien. Ek het eintlik net betrokke geraak a.g.v. van musiek. Ek en Inge van Lark skryf die theme tune vir die movie. Ek sal maar eers moet sien of ek die acting kan afpull. Gelukkig het ek baie make-up en shit, so dit is makliker om in karakter te kom.

 

RW: Het jy doelbewus ʼn Afrikaanse film gekies? Is dit deel van jou ondersteuning vir Die Taal?

FvC: Ek het nooit gedink ek sal betrokke wees by ‘n movie nie en nee dit gaan nie oor Die Taal nie.

 

RW: Ondersteuners op Youtube het die volgende te sê: “solank VC nie inie eeste scene kak nie” en “Sho Francois die girl het jou dam nou goed opgefok.” Sien ons jou in die fliek vir langer as die ‘eeste scene’?

FvC: Yes, dit was aanvanklik ‘n baie klein rol. Ek het nou ‘n paar extra scenes gekry.

 

RW: Is Fokofpolisiekar nou finaal iets van die verlede?

FvC: Nee, ons sit nou met ‘n klein hangover want ons het gisteraand gespeel. Daar is nou onlangs ‘n goedgekeurde biografie vrygestel en ons wil baie graag aan nuwe tunes werk. Tyd is net baie min en almal is betrokke by ander dinge. Dit is befok ons saam te speel en as daar tyd is sal ons skryf.

 

RW: Het jy ooit gedink jy gaan verloof raak en dat SARIE daaroor sal skryf?

FvC: Dit was baie weird toe Die Beeld my gebel het om te hoor oor die verlowing en van daar af was dit afdraande.

 

RW: Hoeveel kan jy onthou van jou encore namens Die Antwoord by Ramfest 2011? Jou oppasser is vet uitgetrap oor hy jou verloor het.

FvC: Nie regtig nie. Ek kan onthou ek was laat om ‘Doos Dronk’ te sing. My oppasser?

.

.

Die onderhoud met Inge

Reney Warrington: Wat het jou aangetrek tot Bloedsuiers, ʼn Afrikaanse vampier fliek? En meer spesifiek die rol van Lizelle, ʼn gatskop vampier jagter?

Inge Beckmann: Ek hou van grindhouse films. Ons sal graag n ander sy van Afrikaanse kultuur wil wys. Die gevoel van Bloedsuiers is amper meer Wes Kaap as Transvaal so dit sal n ‘refreshing contrast’ skep op wat ons gewoonlik in Afrikaanse films sien. Ek wou nog altyd bewys dat die hero girl in n aksie fliek nie n totale poppie hoef te wees nie. Dit moet realisties wees. Toe ek uiteindelik die rol gekry het was ek baie opgewonde om Lizelle my eie te maak.

 

RW: Watse fisiese voorbereiding moet jy vir die rol doen? Jy hanteer een ma’se pistool in die voorprent en daar is footage van militêre opleiding op die Net?

IB: Ons sal defnitief op n stadium begin met ons opleiding van ‘mixed martial ‘arts, stunt werk, choreographed fighting ens. Ek, Darron en Tyrel het nou die dag ‘swat training’ gehad daar êrens teen die weskus op. Dit was baie snaaks want ek was heeltemal trigger happy gewees en het sommer alles geskiet. Een van daai ‘air soft’ balletjies het my op my heup been getref en n groot pers eier gelos. Daai goed maak blerrie seer.

 

RW: ʼn Opgewonde Youtuber skryf; “Yowzers! Really dig Inge………she’s so hot, fiesty & sexy! Can’t wait to see more of her…….totally vokkin psyched!” Dink jy jou looks is ʼn vloek? Of tel dit in jou guns?

IB: Ek dink ek is ‘an acquired taste’ so ek sien nie my ‘looks’ as n vloek nie. Watookal my aantreklik maak is nie vooglopend nie so dit ‘distract’ my nie en gee my die kans om aandag te gee aan ander goed.  My ma het altyd vir my gese: ” My kind, jy is n ‘delicacy’.” Ek loop gereeld rond met my hare in n bolla en geen grimering aan my gesig nie. Dit is my filter. As ek dan n effort maak met myself verras ek mense! Ek speel net daai kaartjie elke nou en dan… strategies…

 

RW: Na Sweetheart, ʼn indrukwekkende swart en wit shortfilm, kry ons Bloedsuiers, ‘ʼn g’n blink-in-die-son, spalk-skiet-en-donner vampier fliek’. Wat is volgende?

IB: Ek vertolk die hoofrol in n teater stuk in Junie by die Arena Teater. Dit sal my eerste keer in teater wees. Ek kan nie wag nie.

 

RW: Wat dink jy van die magdom Suid-Afrikaanse films, veral Afrikaanse films, wat nou verskyn? Sommiges is uiters swak, ander heel kykbaar. Is daar hoop vir die film industrie? Gaan jy nog ‘n Oscar huis toe bring?

IB: Daar is nog baie spasie vir ontwikkeling maar ek dink dit is fantasties dat meer en meer films gemaak word. Ek het nou die dag die Bakgat films gekyk en amper in my broek gepiepie. Dit is baie snaaks! Daar is baie kak films maar dit is so oral in the wêreld. Ons besit al die ‘resources’ om goeie films te maak.  Ek is nie n opgeleide aktrise nie so my ‘approach’ is maar op die stadium baie ‘autodidactical’. Ek het nog baie om te leer maar my ‘attitude’ is baie goed so ek voel ek sal vinnig groei. Ek respekteer hierdie kuns baie. Dit is NIE maklik nie.

 

RW: Is daar ‘n nuwe Lark of Inge Beckmann solo album in die pyplyn?

IB: ʼn Nuwe Lark album kom later hierdie jaar. Dit sal ons 3de een wees. Dit klink tot dusver ongelooflik.

 

RW: Gedra Francois hom sover?

IB: Francois is n totale ‘professional’ en hy kla nooit. Ek is baie opgewonde om saam met hom te werk. Toe ek die script lees het ek geweet hy is perfek vir die rol van Ettiene.

 

Die storie

Wanneer twee onervare jagters per ongeluk hul eerste vampier vang, word hulle op ‘n kruistog gestuur na die Klein Karoo om die bose en bloedsuiende prins, Wyker, op te spoor en van kant te maak. So vervul hulle ‘n eeu-oue profesie. Die enigste probleem is dat dié profesie bekend is onder die vampiere en Wyker weet hulle is oppad.

.

.

Details

Die volle rolverdeling sluit in Darron Meyer, Tyrel Meyer, Inge Beckmann, Rob van Vuuren, Porteus Xandau, Francois Van Coke en André Roothman.

Vir meer inligting besoek www.bloedsuiersmovie.com.

    Leave a comment

    Time limit is exhausted. Please reload the CAPTCHA.

Total: