’n Eie ritueel met die afsterf van my pa

March 16, 2015

GESKRYF VIR EN GEPUBLISEER DEUR NETWERK24

In 2013 beland my pa in ’n tehuis. Sy niere het ingegee, so ook sy moed. Hy weier om te eet. Hy het agt jaar vantevore ’n beroerte gehad en dit het sy lyf en mond by hom gesteel en my kans om met hom te kan vrede maak by mý gesteel. Ons het erg kop gestamp oor verskeie goed. Die uiteinde van die saak was ’n totale verbrokkeling.

Terwyl hy in die tehuis lê, word ek ’n paar dae gegun om twee dinge te doen. Een: ek kan vir hom sê, No hard feelings. Daar is seker ’n meer poëtiese manier van dit sê, maar No hard feelingssê tog wat dit moet en dit is al waaraan ek kon dink op daardie oomblik. Ek sê dit wel terwyl hy vas slaap. Die verpleegsters kry hom nie wakker nie.

Twee: die meer belangrike van die twee punte – ek kan vir hom sê ek is lief vir hom, en vir daardie woorde, ‘Ek is lief vir jou, pa’, maak hy wel sy oë oop toe ek my hand op sy bors sit. Op die vraag, ‘Verstaan jy?’, antwoord hy selfs: ‘Ja’.

Die laaste dag wat ek soontoe ry, staan die R59 stil as gevolg van padwerke en mis ek sy dood met vyf minute.

Ek baklei teen my instink om in my dop te kruip en die wêreld agter te laat, deur langs sy sterfbed my vriende al te laat weet. My pa is weg.

Daar word ’n besluit geneem om nie begrafnis te hou nie. Daar is nie ’n dominee in die prentjie nie, al sy vriende het opgedroog, die familie is ver … dít is net ’n paar redes vir die besluit. Dit voel tog vreemd dat hy net so in die niet verdwyn.

My kopdokter-vriendin, Joanne, sê om begrafnis te hou is ’n ritueel wat jou help groet. Sy stel voor ek kry my eie ritueel.

Dit is in ’n plaaslike drankwinkel voor die whiskey-rak waar ek onbeskryflik bewoë raak. My pa het gehou van ’n goeie whiskey op ’n Sondag, of hy nou snoek of steak braai. Vir die plonkers het hy die Chivas geskink. Ek koop dus die duurste bottel whiskey wat my begroting sal toelaat. Ek het my ritueel gekry.

My vriende Kimon en Tilla stel hul huis oop vir die eerste heildronk. Kimon spreek selfs ’n paar gevleuelde woorde. My vrou en naaste vriende staan almal om my, met ’n glas whiskey in die hand. Ek lig my glas, en kry dit net-net reg om te sê, ‘Op Richard Bell Warrington’.

Ons kom die aand agter dat tussen die agt van ons teenwoordig, vier van ons pa’s in die laaste twee jaar verloor het. Die ander drie begin ook hul gedagtes deel en die herdenking gaan gelukkig oor meer as my pa en my hartseer.

Ek werk pligsgetrou deur die groep vriende in Johannesburg en ontwikkel ’n voorkeur vir ’n goeie whiskey.

Een van die beste whiskeys drink ek dan in ’n plaaskombuis 30 km anderkant Magalies. Dit is Ed en Laura se kombuis en ons het al menige aande die wêreld se probleme om hul kombuistafel opgelos.

Ed het my ook geleer van espresso, rooi- en witwyn en die misterie van ’n sipping gin. Hy het ’n diep dubbeldeurkas waarvoor mens ’n plaasgrootte Maglite-flitslig nodig het om tot agter te kan sien. Die dubbeldeurkas staan vol plaaslike en ingevoerde whiskey, Cognac, appelbrandewyn, grappa en jenewer, alles van die hoogste kwaliteit.

In die begin was ek en die vrou ook maar plonkers. Soos ons kennis uitgebrei het, so het Ed die meer spesiale bottels begin uithaal en deel. Met elke nuwe besoek het hy dieper en dieper in die dubbeldeurkas gaan grawe en het die laataand-proetjies in die kombuis al hoe beter en beter geraak.

Toe dit Ed se beurt is om saam met my ’n whiskey te drink, gaan grawe hy lank in die dubbeldeurkas. Hy sit ’n bottel whiskey op die tafel, en sê: “Nou het ek niks meer oor om jou mee te verras nie”.

Hy laat ons almal regop staan.

Ek sê: ‘Op Richard Bell Warrington’.

Ed sê: ‘May the road rise up to him. May the wind be always at his back. May the sun shine warm upon his face, the rains fall softly upon his fields. Until you meet again.’

    Leave a comment

    Time limit is exhausted. Please reload the CAPTCHA.

Previous post There is a boy
Total: