Friends with Benefits

September 16, 2011

Oorspronklik gepubliseer op www.sarie.com

Friends with Benefit (FWB) gaan nie enige Oscars wen nie. Ook nie die filmindustrie ‘wiel’ herontwerp nie. Dit is wel ʼn bogemiddelde komedie, met ʼn skerp, effense onhebbelike draaiboek en twee sexy, tog uiters bekwame hoofspelers in die vorm van Mila Kunis en Justin Timberlake.

Storie

Dylan en Jamie is groot vriende. Hulle besluit om seks by die vriendskap te voeg, maar sonder die komplikasies wat verhoudings bring. Almal weet waarop dit afstuur.

Die laagtepunte

Die storie is heel gewoon en word uiters oppervlakkig hanteer. Daar is geen verrassings of relevante vrae wat gevra word nie.

Die hoogtepunt

Die plofbare energie tussen Mila en Justin is tasbaar en dra film enduit. Mila het in Black Swan bewys sy kan jou aandag ten volle hou. Justin Timberlake se eerste geloofwaardige rol was in die onbekende en gemiddelde film, Black Snake Moan. (Christina Ricci verbaas ook daarin.)

FWB is nie so stroperig soos die standaard rom-kom nie. Die draaiboek het inderdaad ʼn ‘onder die belt’ element wat hierdie kyker van gehou het, maar sommige sensitiewe siele mag affronteer.

Die keuse van ondersteunende akteurs dra by tot die integriteit van die film. Patricia Clarkson is een van die mees ongewaardeerde aktrises van die laaste twintig jaar. As die film Cairo Time ooit by die plaaslike DVD winkel verskyn, neem dit summier uit. Dit bevat ʼn ouwêreldse romanse wat jou voete onder jou sal uitslaan.

Naas Patricia, staan Richard Jenkins. Hy het kommersiele bekendheid verwerf as die pa in die HBO reeks, Six Feet Under. Kyk uit vir The Visitor wanneer jy Cairo Time terugvat DVD winkel toe.

Wat kan ʼn mens sê van Woody Harrelson? Hy vat elke rol met oorgawe aan – van queer sportskrywer in FWB tot macho zombie moordenaar in Zombieland. Die man is net nooit vervelig nie.

Vermaak vs kuns

FWB is uiters goeie vermaak en ligjare bo die standaard vervelige rom-kom waarmee ons bombardeer word. Met ʼn bietjie ekstra moeite – ʼn meer interessante storie, ʼn meer geloofwaardige agtergrond, karakters wat effens dieper ondersoek word – sou dit maklik kon kwalifiseer as ʼn kunsfilm.

Vir wie sal ek dit aanbeveel?

Enige iemand wat hou van ligte vermaak, maar nie sensitief is vir seksuele inhoud nie. Mila en Justin bevind hulleself in ʼn paar interessante posisies en praat reguit daaroor.

Opsommend

Friends with Benefits word bloot gedra deur die sterkte van die akteurs se vertolkings. Dit is ʼn groot jammerte dat daar nie meer tot die film is nie.

    Leave a comment

    Time limit is exhausted. Please reload the CAPTCHA.

Total: