50/50

November 15, 2011
Oorspronklik gepubliseer op www.sarie.com

As die lewe druk, is daar mooiweersvriende wat wegsluip. 50/50 bring hulde aan die mense wat bly, aan hul ongevraagde advies, hul selfsugtige optredes, maar bowenal hul onvoorwaardelike liefde vir jou.

Storie

27-jarige Adam word met ‘n raar, aggressiewe kanker gediagnoseer. Sy meisie, vriende en familie verwerk dit elk op hul eie manier en bied verskillende vorms van ondersteuning. Adam wil egter onafhanklik bly en sluit mense uit.

 

 

Hoogtepunte

50/50 se invalshoek is vars. Dit fokus nie so seer op die pasiënt en sy alleenlik sy emosies nie, maar op sy verhoudings met die mense om hom en die ondersteuning wat elkeen in staat is om hom te bied. Die ‘meisie’, soos die voorprent al weggee, val vinnig weg.

50/50 fokus eerstens op wat die Amerikaners na verwys as ‘n bromance – ‘n vriendskap tussen mans. Die groot verskil tussen 50/50 en die standaard definisie van bromance, is dat die vriendskap tussen Adam en sy stoner vriend, Kyle (perfek vertolk deur Seth Rogen) nie slegs gaan oor drink, meisies optel en spog daaroor nie.

Tweedens, word die verhouding tussen Adam en sy ma (‘n wonderlike Angelica Huston) met soveel integriteit uitgebeeld, meeste van ons sal ‘n element van ons eie ma’s daarin sien.

 

Alhoewel die film handel oor kanker, is dit nie vir ‘n moment stroperig, oordramaties of uitmergelend nie. Ja, jy gaan ‘n sakdoek of iets dergeliks nodig hê tydens die film, maar jy stap uit die teater uit gevul met hoop en deernis vir die lewe.

 

Joseph Gordon-Levitt is een van die beste akteurs van sy generasie. Hy stel nie teleur met 50/50 nie. Sy aanvanklike emosielose vertolking van die rol, maak dit moeilik vir die kyker om met hom te identifiseer, maar maak dit soveel meer treffend wanneer hy wel besef sy kanse lyk sleg en die emosies hom inhaal. Soos ek gesê het, vat ‘n sneesdoekie.

 

Laagtepunte

Die film kon vroeër geëindig het. Die punt was gemaak toe Adam ingaan vir sy operasie. Die film sou sterker geëindig het as jy nie geweet het wat die uitkoms daarvan was nie.

 

Vir wie sal ek die aanbeveel?

Enige iemand met ‘n hart.

 

Opsommend

50/50 is ‘n besonderse film oor ‘n moeilike onderwerp, wat die kombinasie van goeie toneelspel, nie-stroperige drama en subtiele humor gebruik om die kyker te laat aanhou hoop.

    Leave a comment

    Time limit is exhausted. Please reload the CAPTCHA.

ROSA Next post ROSA
Total: