Crazy, Stupid, Love

September 6, 2011

Om ander mense se harde werk af te kraak, is ʼn tydverdryf waarvan ek wegbly. Ek hou bloot nie daarvan nie. (En as die film plaaslik is, is die kanse goed dat jy in iemand by ʼn volgende premiere raakloop wat betrokke was by die einste film en jou dan uitkyk oor hulle glas whiskey.) Ek kies gevolglik die films waarop ek tyd en energie spandeer baie deeglik. Soms glip daar een deur – ʼn film wat ongelooflik lyk, oor akteurs van die voorste waters beskik en gemaak word deur ʼn gesoute regisseur, ʼn film wat tog teleurstel. Crazy, Stupid, Love is ongelukkig niks besonders nie.

Storie

Cal (Steve Carrell) se vrou (Julianne Moore) vra na 25jaar van getroude lewe vir ʼn egskeiding. Hy is verpletter en wend hom tot ʼn kroeg. Daar sien die jong, sexy Jacob (Ryan Gosling) hom raak. Cal herinner hom aan sy eie pa en Jacob besluit om Cal onder sy vlerk te neem, sy ‘manlikheid’ terug te gee. Die res is heel voorspelbaar.

 

Die laagtepunte

Crazy, Stupid, Love is oneweredig en deurmekaar. Die karakters is onafgerond en sonder motivering. Die film is nie werklik snaaks nie, ook nie werklik treffend nie. Dit is ietsie van alles – bietjie snaaks, bietjie hartseer, bietjie ernstig, maar nie genoeg van een genre of ʼn sterk genoeg kombinasie van verskillende genres om te slaag nie.

Een storielyn het my wel bygebly (en nie vir goeie redes nie). Die 13-jarige Robbie is smoorverlief op sy 16-jarige oppasser en embarrasseer haar gereeld. Sy is egter verlief op Cal, Robbie se pa en wil dus niks van Robbie se verliefdheid weet nie. Sy besluit om vir Cal kaalfoto’s van haarself te stuur. Gelukkig kry haar ouers dit voor sy dit aflewer. Dankie tog.

Na ʼn paar vuishoue en ʼn lawwe toespraak, is sake uitgepluis en die film amper oor. Robbie kondig aan dat hy sy ‘agtervolging’ van Jessica sal halt tot hy bietjie ouer is. Wat doen Jessica? Sy oorhandig die kaal foto’s van haarself aan Robbie – om hom deur hoerskool te dra! En volgens die vervaardigers van die film is dit oulik en aanvaarbaar. Is dit net ek wat dink dit is vreemd? Selfs onvanpas?

 

Die hoogtepunte

Emma Stone. Emma Stone. Emma Stone. Haar talente kan nie in een boksie gedruk word nie. Sy beskik oor perfekte comedic timing, oorgenoeg diepte vir drama, ʼn oorrompelende teenwoordigheid op die skerm, ʼn speelse intelligensie en een van die ‘rokerigste’ stemme wat ek lanklaas gehoor het.

Easy A was haar deurbraak in ʼn komedie, maar The Help gaan haar pad oopmaak vir ʼn dramatiese Oscar.

 

Vermaak vs kuns

Crazy, Stupid, Love is Sondagmiddag vermaak wanneer daar niks beter wys nie.

 

Vir wie sal ek dit aanbeveel?

Enige iemand wat lig vermaak wil word op ʼn Sondagmiddag.

 

Opsommend

Ek verstaan nou nog nie die punt van die film nie. Dit verkondig die geykte boodskap dat jy moet baklei vir jou sielsgenoot. Dit sê egter nie veel oor wat jy moet doen as daardie sielsgenoot jou verneuk, verveel, verwaarloos en dan los nie.

    Leave a comment

    Time limit is exhausted. Please reload the CAPTCHA.

Total: