Die antie in #49

October 15, 2013

Geskryf vir en gepubliseer deur www.rapport.co.za

My ma voer nog altyd elke mank, afvlerk-siel wat oor haar pad kom.Al het sy dit self nie breed nie. Ek het lankal ophou baklei. Toe sy by haar nuwe kompleks intrek en een van die wagte R60 wil leen, het ek oë gerol en onder my asem gebrom. Sy het die geld uitgehaal wetende dat sy dit dalk nie weer gaan sien nie. Die wag het die skuld R20 op ’n slag afbetaal en ek moes my gebrom sluk.

Die eerste wag sê wel toe vir die tweede wag dat die antie in #49 hulle goedgesind is. So leen sy hier en daar geld uit, maak sy soms ’n oproep namens hulle en stuur sy ’n faks of twee. Dit kos haar mos niks, is haar redenasie.

My boetie is fisiek en verstande­lik erg gestrem en my ma sorg al 30 jaar vir hom. Hy kon nog altyd self uit sy rolstoel uit “maneuvre”, maar so ’n paar maande terug verswak hy tot op die punt waar hy hulp nodig het.

Uit desperaatheid roep my ma een van die wagte om te help. Soos ’n kosbare skat tel Lukas my boetie oor op die bed. Toe my ma ’n fooitjie belowe, wys Lukas dit van die hand. Sy help hulle dan altyd, so hulle sal die antie in #49 verniet help.

Die stelsel werk goed. Sy loer by die agterdeur uit en die manne hardloop nader. Een van haar nuwe vriende word toe wel siek en hy word vervang deur ’n onbekende wag wie se Engels maar sukkel.

Huiwerig stop my ma by die hek, kry haar storie reg en roep die wag nader. Sy wil nog verduidelik, toe sê hy, hy weet van alles. Die ander wagte het hom ingelig.

#49 is deel van die job.

    Leave a comment

    Time limit is exhausted. Please reload the CAPTCHA.

Previous post In my ma se hart
Total: