die begin van ‘n kortverhaal…

January 12, 2010

Dit is vroeg skemer op die plaaswerf. Die bye drom om die honde se waterbak en die rose blom vreemd wit in die spreilig. Ed hou dit so los en wild. Jy moet daardeur skuur om in die huis te kom. Ek hou ook van die verwelkoming.

Ek sit op die agterdeurtrappies en pas vir Grace op. Sy probeer in haar pa se Bluntstone boots klim. Ed kook in sy kouse voor die gasstoof. Ons ander helftes bekyk Laura se nuwe Macbook Pro.

Die Spiegelau glas is warm in my hande vasgehou, die Cabernet Sauvignon lankal nie meer Europese kamertemperatuur nie. Ek vat nog ʼn sluk en verwonder my aan die potlood smaak wat in my mond agterbly.

Grace het teen die tyd albei haar voete in een boot. Sy kan nie orent kom nie, frons en trek een voet weer uit. Tyd vir ʼn ander plan.

Die dreuning onder my voete laat my opkyk. Die kolliehonde se ore spits en Grace kyk my grootoog aan. Al drie honde stap voor hek toe en ek glimlag vir Grace. Dit werk en sy speel verder. Die honde wag egter angstig vir die trein en toe hy verby storm, toe kyk hulle op hemel toe en huil hulle ʼn hartverskeurende huil.

Die gehuil raak my gewoonlik. Maar vanaand was ek hartseer lank voor die trein verby gekom het en dit is die tipe hartseer wat wye oop vlaktes nodig het. Die huis perk dit in, die ander sien dit in my.

Dus sit ek alleen hier en wyn drink en babas oppas.

 

    Leave a comment

    Time limit is exhausted. Please reload the CAPTCHA.

Next post melody gardot
Total: