Die Spreeus – as dit maar net scary was

February 27, 2020

Die Spreeus is ’n bonatuurlike rillerreeks waarin twee onverskrokke speurders van die Spreeus-ondersoekeenheid – Bas Koorts en Beatrice Mack – elke week ’n ander verskynsel ondersoek en misdaad se spoor tot in ander wêrelde volg.

Vrywaring: Hierdie resensie is gebaseer op die eerste vier episodes van Die Spreeus, en nie die hele reeks nie.

Die Spreeus se produksiewaardes – kamerawerk, klankontwerp, redigering, kleurbehandeling, beligting, openingsanimasie, CGI  – kan vergelyk met van die beste internasionale reekse. Wel gedaan.

Die uitgangspunt is vars. In Die Spreeus word bekende verhale uit die Suid-Afrikaanse kultuur dikwels gebruik om ’n storie te vertel wat ook tot vandag se kyker spreek, soos die spook van Uniondale, die tokoloshe en CJ Langenhoven se klassieke kortverhaal, ‘Die bouval op Wilgerdal’. Natuurlik verwys die naam van die eenheid, Die Spreeus, na die Valke. Lekker.

Die beste gedeelte van die reeks, en hoekom ek sal aanhou kyk, is die “chemistry” tussen die twee hoofkarakters, Bas Koorts (Chris Vorster) en Beatrice Mack (Monique Rockman). Hy verteenwoordig die ouer generasie, wysheid en kalmte. Sy is die jong, hardegat sersant wat oë rol, haar eks “ghost” en te veel drink. Hulle irriteer en terg mekaar, maar die een leer by die ander.

Die lekker stadige pas gee die akteurs kans om die karakters ten volle oop te vou vir die kyker. Dit is lekker om nie van een toneel na die volgende te jaag nie.

Die Spreeus is nie sonder foute nie. Die dialoog word soms stokkerig oorgedra – die akteurs se tydsberekening is uit. Die spesiale-effekte-grimering is plek-plek substandaard – die kneusmerke en snye lyk opgeverf. Hoekom dra Sandi Schultz ʼn pruik? Hoekom word die eeu oue dreigement van bendeverkragting in die tronk gebruik?

My grootste probleem met Die Spreeus is dat dit nie skrikwekkend is nie, en ek is ʼn bangbroek. Ek vermy enige bonatuurlike films, reekse of selfs lokprente. Hier en daar het ek gewip, maar oor die algemeen het ek gevind dit is koue pampoen.

Die Spreeus se waarde lê in die lieflike karakters en ontginning van Suid-Afrika se ryk kultuur van spookstories.

    Leave a comment

    Time limit is exhausted. Please reload the CAPTCHA.

Skemerson Next post Skemerson
Total: