goeie vriende

February 10, 2010

 

My vrou (en Ed die boer) kan Cassandra Wilson se musiek nie verdra nie. Ek (en Bertus die dominee) voel anders oor die Amerikaner. Dus luister ek my ‘Glamoured’ CD net wanneer ek die huis vir myself het. 

 

‘Glamoured’ bevat van Cassandra se eie komposisies, maar ook Sting, Bob Dylan, Willie Nelson en Mudday Waters covers. En alhoewel Bob se ‘Lay Lady Lay’ ‘n hoogtepunt van akoestiese blues op die album is, is daar een partikulêre tragiese tranetrekker wat my elke keer onverwags roer.

Op ‘If loving you is wrong’ sit suster Cassandra alles in. Sy gaan haal die tragedie ver. Sy leef dit. Dan is die begeleiding boonop (Ed se woord, boonop) so skraps (Bertus se tipe woord) dat jy net percussion en daardie stem hoor. Indien julle nog nie die stem gehoor het nie, skort daar iets in julle lewens. Boonop (Ed) is Cassandra ietsie vir die oog. (Hieroor stem my vrou darem saam.)

 

Wat ek tog elke maal aan dink as ek die album uitgrawe en speel, is nie net haar stem, Bertus die dominee, Ed die boer en my beautiful vrou nie, nee, ek dink ook aan die pel wat onverwags so reg geraai het en met ‘Glamoured’ toegedraai in verjaarsdagpapier opgedaag het.

 

Sommige vriendskappe verongeluk, sommiges hou ʼn leeftyd. Oor party is jy hartseer, oor ander is jy half verlig. Oor dié een wat so onverwags verongeluk het, is ek spyt.

 

    Leave a comment

    Time limit is exhausted. Please reload the CAPTCHA.

Previous post ou vriende
Total: