Into Great Silence (FILM)

January 20, 2010

Voor ek wagval en my opinie lig oor hierdie dokkie, moet ek twee dinge noem:

1. Op hoërskool het ons geskiedenis onderwyser, ‘n gawe siel met ‘n weglê snor en al die geduld wat ‘n klomp tieners verg, voor my lessenaar kom staan, met altwee hande uit moedeloosheid op my lessenaar geleun en met trane in sy oë gevra, ‘Wat is fout met jou, meisie?’

Dit is oor ek nie kon ophou praat nie. Vir niks nie.

2. Ek gaan net kerk toe vir begrafnisse, doop en die odd troue as ek regtig nie ‘n keuse het nie.

 

Dus was ‘n 2.39h dokumenter oor ‘n klooster met hoogstens DERTIG reels dialoog  ‘n beproewing van die voorste waters.

 

Op 1:39h het ek fast forward gedruk. Dit is nie asof ek die klank so verloor nie. Daar is geen musiek nie en soos ek genoem het net DERTIG reëls dialoog.

 

Goed, dit is ongelooflik goed verfilm. Die beperkte fokus wat in en uit beweeg, die skiet van detail soos knope, teks in ‘n boek geskryf, die maatband wat in die vensterbank lê, is alles ongelooflik simplisties en asemrowend mooi. So ook die ‘time exposure’ skote van die mis wat uitbeweeg, die sterre wat sirkel, ens.

 

Maar dit het slegs my aandag gehou tot op ‘n uur. Toe begin ek dink aan emails wat ek moet skryf, die feit dat ek moreoggend vroeër as gewoonlik moet gaan gym en ek saam met my ma en drie ander anties wat dieselfde dag as sy hulle knieë vervang het moet gaan koffie drink…

 

Dit is definitief iets anders, maar dalk effens te lank.

 

Rotten Tomatoes gee dit 88%.

 

Total: