KKNK – 1 April ‘Draadwerk’

April 1, 2010

ʼn Toneelstuk wat handel oor Helen Martins en die Uilhuis kan so maklik schmaltzy wees. Of oorhel na die ander kant toe en ʼn uitmergelende vertelling van haar tragiese lewe wees. Draadwerk is egter ʼn teer, en met tye humoristiese, blik op die verhouding tussen Helen en Koos Malgas. Ek was binne die eerste paar minute meegesleur.

 

In ʼn neutedop…

Draadwerk begin waar Helen haar tuin beplan en Koos skaam sy eerste uil beeld aan haar oorhandig. Dit eindig met haar selfmoord.

Die bekoring van die toneelstuk…

Balans. Die toneelstuk hou ʼn goeie balans tussen fyn humor wat die gehoor inlok en vermaak en tragiese beelde en dialoog wat diepte verleen.

Akteurs. Aletta Bezuidenhout en Denver Vraagom is soos altyd asemrowend. Hulle beweeg sonder moeite van humor na drama na woede.

Draaiboek: Daleen Kruger se draaiboek is vol kosbare dialoog en beeldspraak. Ek dink spesifiek aan die toneel waar Helen kla oor haar hande wat nou so seer is en dan sê, Dit is asof my woede in my stil gebalde vuiste kom lê het. Of aan die feit dat Helen smag na nog sonlig teenoor Koos wat wil wegkruip van die son af oor hy voel hy gis.

 

Die hoogtepunt…

Die end toneel waar Helen se dood deur die oë van Koos Malgas vertel word.

Produksie…

Soos reeds genoem het die eenvoud van die verhoog, asook die beligting bygedra tot die eenvoudige skoonheid van die stuk.

 

Aan wie sal ek dit aanbeveel?

Almal.

Verdere inligting…

http://www.kknk.co.za/vertonings/draadwerk

 

    Leave a comment

    Time limit is exhausted. Please reload the CAPTCHA.

Total: