Klein Karoo 2 – Waar was die hekwagters?

December 8, 2021

ʼn Werklike suksesvolle komedie is soos ʼn goeie jazz vertoning. Die tydsberekening, die melodie, die saamvloei van instrumente en verskillende stemme, dit als volg hul eie patroon. Jy moet improviseer en laat waai, maar tog al die parte in ʼn soomlose geheel saamvleg.

ʼn Werklike tydlose romantiese komedie verg dit en ʼn bietjie meer. Dit moet snaaks maar ook intelligent wees, lig en romanties, maar tog vol diepte en menswees. ʼn Goeie begin is ʼn kraakvars draaiboek. As die teks flou is, kan die res van die span se bouwerk net so hoog styg op ʼn wankelmoedige fondasie.

Dit is dan ʼn jammerte dat die KK2 span – van die akteurs, tot die kinematograaf, die redigeerder, en bekroonde stileerder –  ʼn halfklaar draaiboek in die hand gestop is. Ek sou bitter graag wou sien wat hulle met ʼn gatskop, vaartbelynde stuk skryfwerk sou doen.

Volgens Masterclass is daar ʼn geykte rom-kom struktuur. Karakters word bekendgestel. Paartjie ontmoet. Paartjie raak verlief. Paartjie baklei. Paartjie los mekaar. Die paartjie vind mekaar. Almal is gelukkig.

Masterclass gee ook ʼn paar wenke vir die skryf van ʼn rom-kom draaiboek. Die hoofkarakter moet ʼn rede hê om liefde te soek, ʼn rede wat ons sal verstaan. Die beminde moet vroeg al bekend gestel word sodat die kyker nie verveeld raak nie. Daar moet ʼn pittige sidekick wees. Jy moet nie wegdeins van die romanse nie. O, nee, haal uit en wys. Baie belangrik, die karakters moet enduit getrou bly aan hulself.

Klein Karoo 2 se struktuur stryk met dit wat Masterclass voorstel (alhoewel dit lang draaie vat). Die skrywerswenke is ook min of meer toegepas. Hoekom voel dit dan so gewoon? Want ons het hierdie film al gesien, ʼn slegter weergawe, ʼn beter weergawe. Oor en oor.

Wat Klein Karoo 2 langdradig maak, is die oortollige heen en weer tussen geluk en ongeluk. Soos ʼn sepie wat al 20 jaar lank hardloop, is dit glad nie spannend nie. Ons weet Jackie en Frans gaan afhak, so maak hul storie boeiend. Jackie hoef nie drie maal vir Frans en Chloë buite konteks saam te sien nie (die eerste soen in die kar, die soen buite die kothuis, saam in die hospitaal). Hoeveel keer moet ʼn misverstand of ʼn afgeluisterde gesprek die snellerpunt wees? Dié en ander rom-kom slaggate is volop en al jare gelede holrug gery. Kathleen Turner wat in Romancing the Stone in die modder val en Michael Douglas wat dan bo op haar val was in 1984 laas snaaks.

SPOILER ALERT

Daar is vir my twee kwelpunte met die storie self. Een, dit stryk nie met Frans se karakter, dat hy ʼn verhouding sal begin wetende dat hy moontlik kan doodgaan nie. Hy sou eerder wegbly, al hou hy van die meisie. Twee, die feit dat Jackie haar groot geleentheid in Praag opgee om langs ʼn man in ʼn koma te sit, ʼn man wat haar tot dusver nog net stief hanteer het. Sjeesj. Dit was laas in 1950 cool.

Die akteurs, en dit is meestal ʼn gedugte span, sit als in. Tim en Leandie het ʼn gemaklike chemistry op die grootskerm – van die aanvanklike stryery tot die uiteindelike vryery. Nicole Fortuin verrig wondere met ʼn papierdun karakter.

Klein Karoo 2 is nie swak nie. Dit is ook nie goed nie. Dit is ʼn louwarm, alkoholvrye bier op ʼn snikhete somersdag.

Nommers 1 tot 5 Previous post Nommers 1 tot 5
Total: