Troukoors – Goed vir ʼn plaaslike reeks…

January 3, 2022

“In this sexy Afrikaans comedy, a freak accident sets a wedding planner on an unexpected path. Together with her friends she navigates life and love while wondering if the perfect person, and day, really exists.”

Ek het langtand na dié reeks gekyk. Ek kon aanvanklik nie my apatie daarteenoor plaas nie. Al die bestanddele is tog daar – goeie regie, draaiboek, spel, kamerawerk, liggings, humor gemeng met net genoeg drama, ens, ens. Tog het ek na agt episodes moed opgegee. Die uiteindelike lot van die karakters kon my nie traak nie.

Ek dink die probleem is tweeledig. Een, dit is net te lig in die broek en boonop ʼn aks te stroperig. Die skrywers dans rondom ʼn paar relevante vraagstukke – diversiteit, kuberseks, deep fakes, seksualiteit – maar gaan grawe nie werklik diep nie. Die reeks is veilig en voorspelbaar.

Daarteenoor was die soortgelyke Franse reeks Call my agent! (net gesetel in die filmindustrie) werklik snaaks, grensverskuiwend, skokkend, vars en steeds ongelooflike goeie vermaak.

Twee, daar is net soveel uitstekende TV waarmee Troukoors moet kompeteer. Ek het eenvoudig nie genoeg tyd om te kyk na die uitsonderlike Yellowjackets, The Expanse, Sneaky Pete, Station Eleven, Landscapers, Around the world in 80 days, Doom Patrol, The Kominsky Metrod, ens, ens, nie. Jy gaan my moet vasvang om my aandag te hou.

Netflix, PrimeVideo en HBO (op Showmax) plaas internasionale reekse in ons voorkamers. Troukoors is goed vir ʼn plaaslike reeks, vir ʼn Afrikaanse reeks, maar dit kan nie op internasionale vlak kompeteer nie.

Total: