Lucia de Lammermoor, Anna die Rus en ek (RANTS)

October 23, 2009

selfportraitLucia de Lammermoor, Anna die Rus en ek…  (Geskryf in Afrikaans 17/03/2009)

 

My vroegste herinnering aan opera, kan ek self nie onthou nie. My ma vertel dit wel graag. Rondom 1978 het sy en my pa sommige Sondae oggende, in Kroonstad, wakker geword met die klanke van opera wat deur die huis weergalm. Die skuldige wat die platespeler aangesit het, die plaat uitgehaal en dan kliphard vir almal gespeel het, was my 5-jarige self. Die belowende begin, moet ek ongelukkig sê, het afwaarts gegaan toe ek verval in die kultuur van populêre musiek…

 

My tweede herinnering aan opera word ook deur my ma vertel. Dit raak my pa en hulle vriende Bella en Hans. Blykbaar het die groepie in hulle vroeë 20’s elke moontlike opera, ballet en operette by die Pretoria Staatsteater bygewoon. My pa kan vandag nie daaroor stry nie, want hy sit stom in ʼn rolstoel na ʼn beroerte en Hans is nie meer met ons nie.

 

Toe Ster Kinekor begin met hulle reeks hoe definisie vertonings van wêreldbekende operas wat by die New York Metropolitan opgevoer word, was dit vanselfsprekend dat ek en Vrou die twee dames nooi vir ʼn bederf. Skaapboud, rooi wyn en Lucia de Lammermoor.

 

Vrou kook stukke beter as ek, so dit maak sin dat sy die boud braai en ek die dames in Alberton gaan haal. Vir die eet en die kuier was ons nie bang nie, maar ek en Vrou was skepties oor die 3ure opera. Ek slaap nie graag deur enige iets wat in ʼn teater, al is dit nou film teater, speel nie. As dit moet dan knip ons maar ʼn skelm uiltjie in die donker.

 

Die gesertifiseerde ‘natuurlik skaap’ en organiese rooiwyn is ʼn reuse sukses. ʼn Halfuur voor die vertoning begin laai ek almal in die kar en sit ons af Rosebank toe. Ons rapporteer dus 25minute vroeg aan en maak onsself gemaklik in Ster Kinekor se nuwe, ruim stoele. Ek en Vrou kan gemaklik ons elmboë op die armleuning rus sonder om mekaar te elmboog.

 

Die skerm flikker aan en die opera vat vir my en Vrou onverwags in ʼn nuwe wêreld in, ʼn wêreld wat al meer as 40jaar deur die oues geniet word. Die heel aanvallige Russiese sopraan, Anne Netrebko, trek ons in die treurige lewe van Lucia de Lammermoor in.

 

Die eerste pouse begin en die kameras skuif na agter die verhoog waar omtrent 100 mense die verhoog afbreek, uitskuif tot op die straat, oorbou en oor belig. Alles binne 20minute. Ek en Vrou gaan rek bene, die twee dames bly vasgenael sit.

 

My ma leun driekwart deur die vertoning oor en fluister dat Nellie du Toit se opvoering van die ‘mal toneel’ uit Lucia uit tot onlangs nog ongeëwenaar is. Bella stem. Ek maak ʼn nota om Nellie du Toit te Google en wag dan in spanning vir die toneel.

 

En daar ek herken een van die arias waar Anna Netrebko in ʼn bloedbevlekte trourok op die trappe staan en uit volle bors uit sing. Ek moet wel eerlik wees oor waar ek dit al gehoor het. Wat die ‘vlak’ van my verwysing is. In die film, ‘The 5th Element’, was daar ʼn toneel waar ʼn blou vrou met ʼn blou ‘conehead’ met pype wat uit haar kop uit groei en haar aan die lewe hou, ʼn gedeelte uit Lucia de Lammermoor gesing het. Die aria het wel reg voor die einde oorgeskakel na ʼn klub nommer, met ʼn dawerende ritme. Skandalig, ek weet.

 

In elk geval, die dames was deeglik beïndruk en ek en Vrou nuwe opera volgelinge. Die New York Times noem Anna se optrede ‘spellbinding’ en vergelyk haar ‘earthy, subdued’ interpretasie van die ‘mal toneel’ met dié van Callas.

 

In my verdediging besit ons wel ʼn dubbel Callas album. Maar dan is Callas soos Piaf, ʼn ikoon waarvan jy ʼn album moet besit, of jy nou van die genre hou of nie.

 

In die belang van rehabilitasie het ek vandag twee stappe geneem. Een, ek het ʼn ‘ordentlike’ opera CD gekoop, ‘The Russian Album’ waarop die aanvallige Rus, Anna Netrebko, gedeeltes uit Russiese operas sing.

 

Twee, ek het bespreek vir die volgende New York Metropolitan opera wat Ster Kinekor wys, Madame Butterfly, my ma se gunsteling.

    Leave a comment

    Time limit is exhausted. Please reload the CAPTCHA.

Previous post Doubt (FILM)
Total: