Nie vir sensitiewe siele nie

August 26, 2014

My ma en pa het op Heathrow Lughawe gestaan en stry. In Afrikaans. Ek was nie daar in persoon nie, nee, ek was in Newcastle onder die waaksame oog van my ouma, maar dit klink min of meer soos my ma en pa.

My ouma het ons opgepas terwyl my ma-hulle gaan raad soek vir my verlamde boetie, en magtag, het ek dit gemelk, want in my oningeligte opinie was ek Ouma Bappie se favourite. Ek verwys spesifiek na die T-bone debakel. In realiteit was dit seker ʼn kleine skaaptjoppie se afgekoude been, maar vir drama glo ek dit was ʼn T-bone been wat my suster na my toe geslinger her. Die rede vir haar gewelddadigheid? Ek het haar die hele aand geklap en weggehardloop, geklap en weggehardloop, alles sonder dat Ouma sien. Die eerste kans wat my suster kry, gooi sy my met wat sy in haar hande het, ʼn T-bone been. Ongelukkig vir haar was dit ʼn pot shot¸ want die been pen teen my kop vas. Dddrrrrrrr! Dit was glad nie seer nie. Dit het nie eens gebloei nie. Tog het ek my innerlike sokkerspeler opgeroep, my voete opgelig en met geweld op die vloer neergeval. Natuurlik het ek onbeskaamd gegrens en my kop vasgehou. Jis, was my sussie in die kak.

 

In elk geval, terug Heathrow toe. Die parentals staan nog so en stry, nie oor my boetie se bene of oor die betekenis van die lewe nie, maar oor waar om die trein te vang, toe antwoord iemand hulle. In Afrikaans.

Dit was die begin van ʼn hegte vriendskap tussen my ma en Maggie, beide ma’s van ʼn 2-jarige gestremde seun, beide op pad na ʼn kliniek in Engeland toe.

Dit was nie die enigste vriendskap wat geblom het nie. Arno en R.B., die twee gestremdes onder bespreking, was vinnig dik tjommies. Arno kon loop en het dus sy groot vriend, wat effe jaloers was op Arno se werkende bene, in sy rolstoel rondgestoot. Arno was klein, maar sy moed groot. Hy het dus sonder enige manier om die pad voor hom te sien, eenvoudig bly stoot aan die staalstoel. Vir die twee vriende was dit ure se genot, die omstamp van meubels en krap van mure.

My ma en Maggie se vriendskap het dalk in Engeland begin, maar het oor die telefoonlyn tussen Newcastle en Potch nuwe hoogtes bereik. Vir my ma was praat nog nooit ʼn sonde nie. (Sy het ook my sondes dan aan alle vriendinne en tannies oorvertel.) Sy kan ʼn koordlose foon se batterye pappraat. Na R.B. se geboorte, en die gevolglike gevangenskap in haar huis oor die jare, was ʼn telefoon ʼn lewenslyn, en veral toe Maggie die persoon is wat aan die anderkant optel. Wie anders verstaan die pyn? Die hoop, wat teen enige ouer se grein ingaan, dat jou kind voor jou doodgaan? Die frustrasie en die woede? En dan, die onderwerp van hierdie skrywe, die nimmereindige doeke wat geruil word.

My tienerself kon dit natuurlik nie aanvaar nie, die urelange gesprekke oor, wel kom ons noem dit, stront. En dan bedoel ek nie nonsens nie, maar regte egte stront. Daar is ontleed aan die kleur, tekstuur, konsistensie, waterinhoud, reuk, of dan die gevaarlikste, die totale afwesigheid van stront.

Soos party Engelse tannies teeblare lees, kon een loer in ʼn doek lei tot ʼn voorspelling, ʼn diagnose of ʼn halleluja oor die stront droogte gebreek is.

My ma het altyd gesê sodra sy dink sy is iemand in die lewe, sodra sy voel sy het iets bereik, dan skyt R.B. vir haar dat sy hom moet stort.

Natuurlik is ek later ingesleep in die humor. (Toe ek die selfbehepte, simpel tienerjare agtergelaat het.) In my vroeë 20s werk ek as kassier by Barclays in Edinburg, Skotland. My ma het nie ʼn rekenaar nie en dit is voor die dae van smartphones, so ons gebruik maar die goeie oue telefoon wanneer daar ʼn noodgeval is, anders faks my ma vir my briewe van die werk af. Briewe in Afrikaans geskryf. Almal by Barclays het naderhand geweet as daar ʼn faks in ʼn lelike handskrif, in ʼn onverstaanbare taal deurkom, is dit vir my. Een so faks het dan ook gehandel oor, wag daarvoor, ja, stront. Dit is reeds braaf om so iets op papier te sit, maar om dit dan nog Skotland toe te faks, is ʼn ander ballgame.

In elk geval, sy het R.B. se doek geruil en ʼn welverdiende koppie tee gaan maak. Voor die yskas kom sy te staan en ʼn gevoel van afgryse vervul haar. Sy weet sy het nou net iets onbesonne aangevang, maar sy het nie ʼn idee wat dit is nie. Sy maak toe maar die yskas oop vir die melk vir die welverdiende koppie tee, en kry die stomende doek daar. Toe weet sy wat sy gedoen het.

R.B. het laas week 32 geword. Ek en die vrou besluit ons gaan vir hom braai oor die naweek. My ma keer ons Sondagoggend. Ons moenie eers dink aan kos nie. Ons moet maar Rehydrate bring. My boetie eet, maar hy skyt vir die eerste span.

Ons arriveer in ʼn blou walm by my ma se meenthuis. Sy is vodde en gatvol. Sy ruil nou al 32 jaar lank doek. Ons maak vir haar die welverdiende koppie tee. Sy lag, en sê, Maar dit is niks nie! Sy het net gisteraand met Maggie gepraat… Ek het gedink na 30jaar se strontpraatjies kan daar nie ʼn nuwe dimensie tot die gesprek gevoeg word nie. Ek was verkeerd.

Arno het saam met sy ouers geëmmigreer. In Engeland het die NHS sy voete geopereer, sy tande reggemaak en hom van doeke af gekry. Laas week het hy egter ʼn glips, en probeer hy dit wegsteek  deur Exhibit A, sy vuil onderbroek, in die tuimeldroër te gooi en op high droog te maak. So wat is die nuwe dimensie? Hardgebakte kak.

    Leave a comment

    Time limit is exhausted. Please reload the CAPTCHA.

Previous post ek wens, ek wens
Total: