Skoonheid – Beeldskoon, maar brutaal

August 5, 2011

Oorspronklik op www.sarie.com gepubliseer.

Ek wil Skoonheid graag aanbeveel. Ek wil ook nie. Dit is sonder twyfel die beste Afrikaanse/Suid-Afrikaanse film nog ooit verfilm. Dit is ook sonder twyfel, een van die ontstellendste films wat ek al gesien het, en ek is nie ʼn sensitiewe kyker nie.

Storie

Francois van Heerden, eggenoot en pa van twee, eienaar van ʼn besigheid en blykbaar ʼn vooraanstaande in die gemeenskap, onderdruk al jare sy seksualiteit. Sy lewe is stadig aan die ontrafel.

Hoogtepunte

Die wêreld wat Oliver Hermanus geskep het met Skoonheid, is so bekend, jy kan dit soos ʼn kombers om jou vou. Dit is die grootste sukses van die film – dit is geloofwaardig. Jy ken vir Francois. Jy weet hy kyk na sy familie. Hy dra geruite hemde (soms ʼn ‘twee-kleur’), hy bestuur ʼn Isuzu, drink te veel bier volgens sy vrou en dokter, kyk rugby, bestuur sy eie besigheid, help sy vriende en gebruik terme soos, ‘Laat hy val waar hy wil’.

Skoonheid se gebrek aan emosie deur meeste van die film herinner my aan sekere Margaret Atwood boeke. Sy ontneem jou van die plesier wat emosie die leser verskaf. Sy martel jou eintlik so bietjie. Wanneer sy jou dan daaraan blootstel, is die effek oorweldigend juis oor jy so uitgehonger is. Skoonheid gebruik dieselfde tegniek. Wanneer Francois knak, sy ware emosies wys, oorrompel Hermanus jou.

Deon Lotz se kragtige vertolking van Francois trek die kyker in. Jy gee om vir hom ten spyte van sy dubbele lewe. Dit is hoekom sy uiteindelike verraad so seer maak.

Laagtepunte

Die einde was vir my te oop, maar dit is persoonlike smaak, en nie noodwendig kritiek nie.

Vermaak vs. Kuns

Skoonheid sal verseker val onder die kategorie ‘Kunsfilm’. (Alhoewel die lyne tussen kuns en kommersiele films al dunner raak.) Die storie word stadig en deeglik vertel en die film het ʼn kleurbehandeling ondergaan wat herinner aan foto’s uit die 70’s. Dit takel ‘n moeilike onderwerp en doen dit met brutale eerlikheid.

Vir wie beveel ek dit aan?

Enige iemand wat hou van uitsonderlike films, maar nie ʼn sensitiewe maag het nie.

 

Opsommend

Skoonheid se boodskap is duidelik. Moenie jou ware self onderdruk nie, al leef ons in ʼn samelewing waar dit moeilik is om eenkant te staan. Skoonheid wat wel die direkte roete om jou te oortuig. Jy is gewaarsku.

*Ster-Kinekor het my springmielies geborg.

    Leave a comment

    Time limit is exhausted. Please reload the CAPTCHA.

Total: