Stroomop

November 5, 2018

Vyf dames is almal besig is om stroomop te swem in hulle afsonderlike lewens. Verskillende situasies en gebeure lei elkeen van hulle om op dieselfde rivieravontuur te gaan. Tydens die avontuur word die boot waarin die dames vaar, omgegooi en die gids raak verlore. Die dames word gedwing om op hulle eie in die water en wildernis te oorleef, onwetende dat hulle onderskeie realiteite en lewenservaringe hulle reeds bevoeg maak vir dié uitdaging. In die oorlewingsproses vind hulle vriendskap en ook hulle eie innerlike krag en binnestemme soos hulle een golf na die ander moet aandurf. Soos hulle die fisieke uitdagings oorwin, oorkom hulle ook ander swakhede en groei hulle in karakter en selfvertroue wat tot genesing in hulle unieke lewens lei.

Eerstens: ek en Donnalee Roberts was die laaste twee jaar medebeoordelaars by die Silwerskermfees. Sy was regtig gaaf met my, met ander mense en teenoor ander mense se films. Dit maak dus hierdie resensie moeilik. Tweedens: ek het eindelose respek vir die hoeveelheid werk wat sy en Ivan Botha in al hulle flieks insit. Hulle besoek skole, deel poskaarte uit, ontmoet-en-groet, en hulle bou ’n “brand”. Vir Stroomop het hulle selfs vertonings gereël vir weeshuise en maatskaplike werkers. Ongelukkig maak dit nie van Stroomop ’n foutlose film nie. So here goes.

Stroomop is ongelooflik mooi geskiet. Chanelle de Jager en Simone Nortmann beïndruk soos altyd. Chanelle gee ’n menslikheid aan Adri, maar kan jou met een kyk laat skaterlag. Van die temas wat aangeraak word, is belangrik vir vroue. Liggaamsbeeld. Als vir die verkeerde ou weggooi. Nie oopmaak teenoor ander nie. Om vervreemd te raak van jou kinders. Die onvoorwaardelike aanvaarding van ’n gay kind. Selfmoord. Die lys gaan aan.

Ek het twee fundamentele probleme met Stroomop. Een: die melodramatiese manier waarop al die drade bymekaar gebring word voel geforseerd en asof dit streng volgens ’n formule gedoen is. Twee: die ongeloofwaardigheid van die avontuur het gemaak dat ek nie vir ’n oomblik geglo het die vroue is in gevaar nie.

Kom ons begin by die netjiese drade. ’n Klomp vroue wat eers baklei, en dan saamstaan is nie ’n nuwe konsep nie. (Die vreeslike gehuil en gelag in hierdie film is eintlik ’n belediging, om eerlik te wees.) Dus moet jou aanslag vars wees. Ek dink nou aan Annihilation. Ja, ek weet, dit is wetenskapfiksie, maar daar is ooreenkomste. Jy vat ’n groep uiteenlopende vroue, almal met bagasie, en jy stuur hulle saam die wildernis in. Waar Stroomop die karakters se bagasie en heelword lepel vir lepel vir jou voer, moet jy in Annihilation noukeurig oplet om al die besonderhede te sien. (Die fliek het gelei tot ’n magdom opstelle en potgooie wat die betekenis van die film probeer ontsyfer.) Die depressielyer in Annihilation maak byvoorbeeld heeltyd haar bril skoon. Sy voel afgesny van die lewe. Die dwelmverslaafde sit en staan en loop senuweeagtig rond, terwyl sy haar kappie opsit en afhaal, opsit en afhaal. Hul rugsakke, met ander woorde hul bagasie, word elke keer neergesit wanneer iets belangriks gebeur, maar dan weer opgetel. Hul verlossing is ook nie volledig of netjies of maklik nie. Die regisseur laat baie aan jou verbeelding oor. Stroomop se draaiboek en regie verduidelik elke laaste klein besonderheid aan jou. Oor en oor en oor.

Elke moontlike muur in die terapeut se spreekkamer is oortrek met plakkate vol Facebook-tipe sêgoed. (“You cannot pour from an empty cup.” “Go where you feel most alive.”)

Wanneer die as van die afgestorwe pa in ’n waterbottel gegooi word, mors die ma daarvan. Dit gaan gepaard met eers ’n gelag, dan natuurlik trane. Die waterbottel gaan verlore op die rivier, maar word dan weer gevind, nogal deur iemand indirek betrokke by die pa se dood. Die dogter wat glimlag en sê “You saved him” was te dik vir ’n daalder.

Wanneer die eerste stroomversnelling bereik word, lei die bakleiery onder die vroue tot die boot wat omkantel. Regtig? Die tweede keer wat ’n stroomversnelling bereik word, werk hulle mooi saam. Daar was sekerlik meer as twee stroomversnellings in hierdie rivier?

Ons weet Lana ly aan PTSD. Ons hoef nie ’n boek daaroor te sien rondlê nie. Hoekom moes almal aan die begin van die film in die hospitaal aan mekaar verbind word? Behalwe Lana wat blomme op Vivian se bedkassie sit, het dit geen doel gedien nie.

Hoekom moes Diona se man verongeluk toe hy ry om die melk te gaan koop wat sy vergeet het? Ons weet reeds sy werk te hard en skeep haar familie af. Ons het die punt gekry. Vyf tonele terug. Die lys gaan aan.

Dit bring my by die ongeloofwaardigheid. As mens ’n doelbewus buitensporige film maak, dan kan sekere ongeloofwaardighede toegeskryf word aan die opskorting van ongeloof. Kyk byvoorbeeld na die briljante 2018-film Revenge. Die slagoffer val van ’n krans af, maar sy tref nie die klipvloer nie, want sy val op ’n ou boom. Die tak wat haar sy deurboor, red haar lewe. Om los te kom brand sy die boom af! Sy neem meskalien om te hallusineer, sny ’n bierblikkie oop, maak die hele ding warm en brand die wond nogal toe! Dit mag dalk nie moontlik wees in die regte lewe nie, maar die fliek moedig jou van die begin af aan om jou ongeloof prys te gee en saam te kom vir die rit. Revenge is ongelooflik brutaal, maar ook werklik snaaks en ’n onwrikbare pluimpie vir vroue. Stroomop is nie een van hierdie goed nie. Dit is ’n doodgewone verhaal wat met erns vertel word. Dan moet jy jou feite regkry, want niemand se ongeloof gaan opgeskort word nie.

Geen avontuurmaatskappy gaan gebottelde water saamroei en uitdeel nie. (Hulle sal ’n waterfilter of watersuiweringsdruppels saamvat.) ’n Groot seiltent gaan ook nie toegelaat word nie, want dit is ongelooflik swaar en sal ’n kwart van daardie rubberboot vol lê. (Jy kan steeds die punt van die familietent maak met ’n liggewig-plastiekfamilietent.) Hulle gaan ook nie klippe gebruik om vuur te maak nie. Geen siel wat twee dae lank in die woestyn lê met ’n stok in hul maag gaan dit oorleef nie. Die lys gaan aan.

Ek besef ek kyk na die film vanuit ’n filmresensent se oogpunt. Ek sien foute wat die algemene filmganger dalk nie gaan pla nie, en ek onderskei ook tussen ’n goeie film en ’n film waarvan ek hou. Byvoorbeeld, The White Ribbon is pure marteling om te kyk. Dit is ’n swart-en-wit-144-minute-mes-in-jou-ribbes wat handel oor die generasie wat die Nazi’s geword het. As ’n film is dit wel geniaal. Na die verstommende R2.5 miljoen wat Stroomop tydens die openingsnaweek gemaak het, is dit duidelik dat die Roberts-/Botha-span iets bied waaroor die volk gaande is. Dit beteken egter nie dit is ’n goeie film nie. Ek is nuuskierig oor hoekom die film so gewild is. Kom vertel my.

 

    Leave a comment

    Time limit is exhausted. Please reload the CAPTCHA.

Total: