The Descendants – ʼn Perfekte balans tussen humor, hartseer en familie-waansin

February 9, 2012

Dit gebeur soms dat ʼn uiters vermaaklike, besonders goeie fliek ook lewensverrykend kan wees. Ek kan The Descendants nie hoog genoeg aanskryf nie. Dié rolprent vang die goeie, die slegte en die alledaagse van familielewe met deernis en wysheid vas. ʼn Moet vir elke fliekvlooi.

DIE STORIE

Die King-familie se fondasie is reeds wankelrig. Wanneer ma Elizabeth ná ’n motorboot-ongeluk in ʼn koma beland, moet pa Matt, die 10-jarige Scottie en 16-jarige Alexandra die trauma verwerk en mekaar van voor af leer ken en aanvaar.

 

HOOGTEPUNTE

George Clooney is genadiglik nie net iets vir die oog nie. Hy kan toneelspeel en kies boonop sy rolle baie deeglik. Hy bring ʼn aardsheid, ʼn kalmte na die rol van Matt King, wat die masjiene moet afsit wat sy vrou aan die lewe hou, die familie-erfgrond moet verkoop en sy twee dogters troos.

The Descendants slaag daarin om die goeie en slegte in sy karakters uit te beeld. Elizabeth se pa blameer Matt vir sy dogter se dood, trap vir Alexandra uit oor die hartseer wat sy haar ma veroorsaak het en pot sommer een van Alexandra se vriende. Maar wanneer hy langs sy sterwende dogter se bed staan, haar hare vryf en haar op die voorkop soen, het jy net simpatie vir hom. Al wat jy sien is ʼn pa wat sy dogter groet.

Regisseur Alexander Payne beweeg sonder moeite in een toneel van humor na hartseer na ʼn waansinnige oomblik en weer terug na kalmte toe. Jy lag soms met trane in jou oë.

Die film is vol interessante lewensfilosofieë. Elizabeth het altyd gekla oor Matt nie sy familie-fortuin wil blaas nie. Sy antwoord? Gee vir jou kinders genoeg geld om iets te doen, maar nie te veel sodat hulle niks doen nie.

Wanneer Matt moet besluit oor die familie-erfgrond se verkoop om ontwikkel te word, verduidelik hy sy standpunt aan die neefs. Hulle het niks gedoen om die grond te besit nie. Hulle is wel deur hul voorvaders vertrou om daarna te kyk.

Die agtergrond van die familie-geskiedenis, die koninklike bloed en erfgrond gee dié familiedrama meer diepte. Die titel is dus ook dubbelsinnig – dit verwys na die afstammelinge en grondkwessie, maar ook na Matt se moderne familie en die bande wat hulle aan mekaar bind.

The Descendants is nie dramaties of uitmergelend nie, al raak dit moeilike onderwerpe aan. Daar is nie oortollige geweld, seks of oordramatisering nie. Die prent wys vir jou ‘gewone’ hartseer en woede wat realisties is vir ʼn effens disfunksionele gesin.

Die lekkerste lekker is om ʼn fliek te kyk wat jou om elke hoek en draai verras. Net wanneer jy dink jy weet wat Alexandra of Matt of Scottie volgende gaan doen, dan maak die film ʼn 180˚-draai. The Descendants hou jou aandag tot op die laaste wonderlike toneel.

 

LAAGTEPUNTE

Die prent was effens lank. Een of twee oordrewe, langdradige skote moes gesny gewees het.

VIR WIE SAL EK DIT AANBEVEEL?

Enigiemand met ʼn familie.

OPSOMMEND

Moenie twee keer dink nie. Gaan kyk dit!

    Leave a comment

    Time limit is exhausted. Please reload the CAPTCHA.

Total: