Wolwedans in die skemer – Lekker creepy

December 3, 2012

Onheilspellend. Dit is ’n goeie beskrywing vir Wolwedans. Die creepy musiek, die skelm kyke, die duistere geheimpies, en die verdomde hadidas! Ek was effe benoud toe ek halfpad deur die film besef ek is alleen in die teater …

Die goeie

Ek volg tans ’n stapeldieet van Afrikaanse films en blykbaar is toneelspeel nie eerste op die lys van talente waaroor toneelspelers moet beskik nie. Die Wolwedans-akteurs, van die hoofrolle tot die ekstras, haal egter uit en wys. Kyk uit vir die Sersant-en-Luitenant-duo.

Die karakters is vrek interessant. Hulle het almal donker en lig in hulle. Aanvanklik is hulle stereotipes: Ryno die rokjagter, Adele die uptight ousus, Maggie die skaam babasussie, en natuurlik Sonja, die onskuldige “damsel in distress”. Binnekort kom jy agter hulle het almal ’n ander agenda, verlede of selfs persoonlikheid! Jy het nie ’n clue wie om te vertrou nie, maar jy voel Sonja se weerloosheid, Adele se bittere haat en die babasussie se skroewe wat los is.

’n Ander sonde waaraan Afrikaanse flieks skuldig is, is emmers vol druppende, stroperige schmaltz. Wolwedansis genadiglik stroop-vry!

Die onheilspellende (daar is die woord weer) musiek laat jou nekhare rys en jou van tyd tot tyd lelik wip (en jou ingesmokkelde wortelsap uitgooi).

Die kamerawerk is uitstekend. Die time lapses, die beperkte fokus en die gebruik van spieëls is cool. Die film is ook baie donker en die colour treatment kom uit die ‘70’s uit.

Dit is ’n uiters geslaagde boere-noir suspense thriller. Die musiek, die donker beligting, die somber karakters en die dubbelsinnighede hou jou op die punt van die teaterstoel. Alhoewel ek halfpad geweet het wie die moordenaar is, het dit nie gepla nie, want daar is meer as een spanningslyn wat jou boei.

Die slegte

Hier reg voor die einde het die wiele begin afkom. Dalk oor soveel inligting in een film gedruk is. Te veel onthullings te kort op mekaar het my deurmekaar gehad. Ek moes na die tyd mooi gaan dink of alles opgelos is.

’n Groot slaggat vir ’n thriller / action adventure is om die storielyn, of eerder die geloofwaardigheid van die storielyn, prys te gee net om êrens uit te kom. Goed, so vir die grand finale het die regisseur ’n donker, creepy omgewing nodig, wat sin maak. Dit maak egter glad nie sin vir Sonja, met ’n axe-wielding Rooikappie op haar spoor, om (1) in die donker in te hardloop en (2) haarself in ’n vrot, wankelrige hut toe te maak nie. Come on. Ek verwag meer van julle.

OpsommendDit is gatskop Afrikaanse suspense thriller met wêreldklas akteurs, cool musiek, van die beste kamerawerk nog op Suid-Afrikaanse bodem geskiet en intriges wat enduit boei.

Titel: Wolwedans in die skemer 
Regisseur: Jozua Malherbe
Rolverdeling: Rolanda Marais, David Louw, Desiré Gardner, Gerard Rudolf, Lelia Etsebeth, Riana Wilkens, André Roothman, Karen Wessels, Jacques Bessenger, Ilse Roos

    Leave a comment

    Time limit is exhausted. Please reload the CAPTCHA.

Total: