In my ma se hart

October 15, 2013

Geskryf vir en gepubliseer deur www.rapport.co.za

In die winter van 1998, in ons prille jeug, pluk ek en my vrou tamaties in die hartjie van Engeland. Ná vyf maande van harde arbeid koop ons twee fietse en ’n tent. Ons besluit om Noord te trap tot ons omval.

Om uit die ergste nywerheidsgebied te kom klim ons die Maandagoggend, fietse en al, op drie treine. Op die eerste koop my vrou koffie. Eers op die derde besef sy haar rugsak, waaruit sy vir die koffie betaal het, lê nog op die eerste trein – met al haar ponde, haar enigste kamera, vliegtuigkaartjie, paspoort, kredietkaarte, CD-speler en ’n paar van my CD’s.

Die stasiemeester sê hou aan trap en bel nou en dan. Ons slaan moedeloos die tent buite Leeds op, bel my ma met ’n kollekteeroproep en vra dat sy kaarte stop, paspoorte vervang en tog nie moet raas nie. (Die idee van ’n vrou aan my sy is nog vir haar vreemd.)

Dinsdagoggend stap Hannelie telefoonhokkie toe en skakel die stasie – tevergeefs. Woensdag lui die telefoon toe sy aangestap kom. Wat doen ’n mens as die telefoon in ’n telefoonhokkie op ’n verlate kampeerterrein lui? Jy antwoord.

“Hallo, Hannelie! Hulle’t jou sak gekry!”

Ja, dis my ma en sy bel uit Alberton, Suid-Afrika. ’n Gawe siel het die sak ingelewer en die parate Engelse polisie het die nommer in Hannelie se sak geskakel. Hulle was nie voorbereid op die vrou wat aan die anderkant van die lyn voor ’n groot landkaart vol rooi naaldwerkspelde sit nie.

My ma het geweet ons trap Noord, dat ons 50 km ’n dag kan bemeester en, belangriker, dat ek die volgende dag verjaar. Sy besluit summier op die romantiese York as bestemming, gee bloot instruksies deur aan die arme stasiemeester en laat stuur die sak Noord.

Vandag, April 2012, sit ek oorkant my ma in Wiesenhoff, ’n hospitaal. Die dokters toets haar hart.

Maar ek het nie ’n masjien of rooi naaldwerkspelde nodig om te weet wat in haar hart lê nie…

    Leave a comment

    Time limit is exhausted. Please reload the CAPTCHA.

Total: