KKNK dag 1

March 29, 2010

 

Die vlug was 2 ure vertraag, die Avis kar was nie reg nie, maar die Cul de Sac B&B het opgemaak vir alles. Meer daaroor bietjie later.

 

Goed, hier is die res van die storie op 11 April 2010.

 

1Time. Die vlug George toe was vertraag. Gelukkig het 1Time ons die vorige aand laat weet en kon ons ʼn uur later slaap. Whoohoo! Wees gewaarsku as jy iets ordentliks vir ontbyt wil hê, koop dit by Woollies, M&B of selfs Fournos voor jy deur doeane gaan. Aan die anderkant is die kosvooruitsigte beperk tot Wimpy se witbrood, Vida se witbrood en die Keg se witbrood.

 

Avis. Die huurmotor is eers vir die volgende dag bespreek en natuurlik wil niemand daarvoor verantwoordelikheid neem nie. Ek swets onder my asem en sleep my sakke by die B&B in. Boonop spring hulle lieflike, maar groot Labrador teen my op, teen die allergiese een van die twee van ons. Net toe ek weer wil swets, verbaas die B&B eienaars my met hulle Oudtshoorn gasvryheid. Ons kan hulle karretjie leen net wanneer ons wil. Ek sluk die geswets en besef dit gaan ʼn ongelooflike week wees.

 

Bella Cibo. Dit gebeur nie gereeld dat ek liries raak oor ʼn bord Spaghetti Bolognese nie, want meeste restaurante dink hulle kan wegkom deur maalvleis, tamatie en soms uie sag te kook en in ʼn bakkerige bord te gooi. Dié restaurant het hulleself egter oortref. Die gereg is verseker nie die vorige aand gemaak en in die mikrogolf ge-nuke nie. O, nee, die knoffel en kruie was vars, die diens goed en die rekening heel bekostigbaar. www.bellocibo.co.za

 

Espresso. O, wee, Oudtshoorn se espresso is so aaklig soos Holland s’n. Ons het hier gesit en daar geproe en amper moed opgegee. As ʼn laaste poging het ons die Baruch’s stalletjie voor die ABSA burgersentrum probeer. Goeie genade! Dit vat ʼn roastery uit Mosselbaai uit om toe vir Oudtshoorn ʼn ding of twee omtrent koffie te leer. www.baruchscoffee.co.za (In Amsterdam moet jy na die The Orangery Museum Cafe by die Botaniese Tuine toe gaan vir goeie espresso en ʼn gatskop wortelkoek. www.hortus-botanicus.nl/oranjerie.asp)

 

    Leave a comment

    Time limit is exhausted. Please reload the CAPTCHA.

Previous post the perfect sunday
Next post Oudtshoorn
Total: