‘Liefling’ – ‘n Lang, cheesy Afrikaanse musiekvideo

November 23, 2010

Ek is nou al ʼn week lank van koffie af en vir ʼn week lank wag ek al vir die onttrekkingsimptome om in te skop. Die verblindende hoofpyn wat halfpad deur Liefling opgedaag het, sal talle mense dan toeskryf aan die gebrek aan kafeïen. Hulle is verkeerd. Dit is die sage wat op die groot skerm afgespeel het, wat so pynlik was.

Die goeie

Ek het so gehoop Liefling is die Suid-Afrikaanse Moulin Rouge! (2001). Dié Australiese rolprent se karakters, klein of groot, was boeiend, die akteurs ook perfek gekies vir hulle energie, ervaring en ‘screen presence’. Met die oordrewe haarstyle, klere en maniertjies van sy karikature het die Australiër Baz Lurhman jou laat lag, maar ook laat huil wanneer hy/hulle rou emosie so perfek vasvang.

Die ryk versameling 80’s en 90’s popmusiek (en die nuwe verwerking van elke nommer) word sonder veel moeite in die draaiboek ingewerk – elke liedjie pas perfek by die moment, karakters en luim van die draaiboek.

Die koreografie was foutloos en die boodskap gepas vir die tyd. Jou aksies het nagevolge, so werk versigtig met die lewe, maar lewe voluit.

Moulin Rouge! neem homself nie te ernstig op nie. Lurhman het groot karakters geskep en die ‘cheese’ faktor so ver gevat, dat nie ʼn moment van die film cheesy was nie.

 

Liefling is NIKS soos Moulin Rouge! nie. Ongelukkig.

 

Die slegte

Die twee hoofspelers is nog nie sterk genoeg om ʼn film te dra nie. Die karakters is oordrewe, maar ongelukkig eendimensioneel. Die groot ‘Bollywood’ tipe danstonele is nie gesinkroniseer of eers interessant nie. Die kleiner, meer intieme danstonele is of laf of bloot swak. Die beligting is te donker, daar is sigbare produksie foute en alhoewel Lika Berning heel mooi is, kan ʼn mens net soveel cheesy, slow motion skote van haar in een film sit.

 

Wat my die meeste pla van Liefling is dat die ‘moral of the story’ uit die 1950’s uit dateer. Ek lees tans Eleanor Baker se boek, Weerkaatsing: ʼn sprokie (as deel van my Linden Bib Projek). Ek het die stereotipering van mans en vrouens aanvanklik toegeskryf aan die feit dat die boek in 1984 verskyn het. As ek egter in 2010, 26 jaar later volgens Liefling moet oordeel, het NIKS egter verander nie. Liefling kan slegs ten volle gelukkig wees, as sy haar lewe in Lusern, Switserland opgee en terugtrek na Jan toe!

 

Opsommend

Behalwe vir Marlee van der Merwe wat ʼn ongelooflike ‘screen presence’ het (en nog ver sal gaan), is die enigste ander hoogtepunt die ryk versameling Afrikaanse musiek wat ons het.

 

    Leave a comment

    Time limit is exhausted. Please reload the CAPTCHA.

Total: