Lucky

August 13, 2012

Die resensie is geskryf vir en eerste gepubliseer deur www.sarie.com

Dit is vir my moeilik om Lucky te resenseer.

Eerstens, is dit ʼn reuse verantwoordelikheid om iemand anders se werk/drome te kritiseer.

Tweedens, het ek ʼn sagte plekkie vir die groeiende Suid-Afrikaanse film industrie.

Laastens, is daar ʼn streep internasionale resensente wat dink die film is ongelooflik! Dit laak my dink ek mis dalk die punt.

DIE STORIE

Die 10-jarige Lucky se ma is dood aan Vigs. Haar laaste wens is dat hy by sy oom in die stad gaan bly. Dié sal na hom omsien en skool toe stuur. Die oom is egter ʼn dronklap en spoedig wend Lucky hom na die bejaarde Indiër-tannie in die woonstel oorkant hulle.

Padma se rassisme is egter so ingeprent in haar wese dat sy skaars aan swart mense, of objekte waaraan hulle geraak het, kan vat.

DIE HOOGTEPUNTE

Lucky vertel ʼn belangrike storie sonder om die kyker emosioneel te manipuleer – dit kyk na Vigs-wesies, die ouma’s wat na hulle omsien en die rassisme ingebou in ons Reënboognasie.

Daar is treffende oomblikke hier en daar, wat miskien verraai wat die regisseur ingedagte gehad het. Die toneel waar Lucky voor Padma se sekuriteitshek staan is hartroerend. Sy hou die kassetspeler vas aan die een kant, Lucky staan en huil oor wat sy ma sê aan die anderkant.

Die kamerawerk is treffend en die gebruik van spieëls is interessant.

DIE LAAGTEPUNT

Die grootste probleem vir my is Padma se wonderbaarlike transformasie van rassistiese ou tannie wat Lucky met haar kierie beetkry tot ʼn liefdevolle ouma wat alles vir hom sal doen. Die een dag gebruik sy ʼn lappie om aan die kasset te raak wat Lucky by sy ma gekry het. Die volgende dag verlaat sy die veiligheid van haar woonstel en stap na die naaste streep taxis toe. Sy betaal die swart drywer om die kassetopname vir haar te vertaal. Sy klim ook in sy kar om daarna te luister. Waar is haar lappies en vooroordeel dan?

Daar word ook voorgehou dat Padma vir Lucky invat om haar hande op sy R200 ‘orphans grant’ te kry. Tog het sy vooraf genoeg geld vir uiteet en koop sy vir hom ‘n splinternuwe skooluniform en tas. Sekerlik is R200 nie genoeg daarvoor nie?

Padma en Lucky kan mekaar nie verstaan nie, maar tog gesels elk in sy eie taal voort. Slegs die kyker kan met behulp van onderskrifte die totale dialoog verstaan. Dit kon treffend gewees het, as hulle byvoorbeeld meer handgebare gebruik het, of mekaar heeltemal verkeerd verstaan het met tye. Ongelukkig is daar lang stukke dialoog tussen die twee waar die een presies weet wat die ander een sê.

Die einde is vir my effens deurmekaar. Daar is twee volwassenes in Lucky se lewe. Padma wat enige iets vir Lucky sal doen en dan ʼn kêrel van sy ma wat a) ontken dat hy Lucky se pa is en b) boonop niks met hom te doel wil hê nie. Lucky kies die kêrel. Ja, dit laat hom nader aan sy ma voel, maar watse toekoms het hy?

VIR WIE SAL EK DIT AANBEVEEL?

Goeie vraag.

OPSOMMEND

Ek is in twee geskeur oor Lucky. Ek stel voor sarie.com-gebruikers gaan kyk die film en help my besluit.

Details
Regisseur: Avie Luthra
Spelers: Sihle Dlamini, Jayashree Basavaraj

    Leave a comment

    Time limit is exhausted. Please reload the CAPTCHA.

Total: