Young Adult

August 13, 2012

Die resensie is geskryf vir en eerste gepubliseer deur www.sarie.com

Charlize se nuutste fliek is ongemaklik, maar die moeite werd.

Young Adult is nie ʼn plesierige Sondagmiddaguitstappie nie. Dit is ook nie die komedie wat die voorprent dit uitmaak om te wees nie. Dit is ʼn ernstige en deeglike ondersoek na die menslike psige en die film kyk veral na diegene wat nooit groot word nie.

Die storie
Mavis, skrywer van ʼn eens suksesvolle tienerfiksie reeks wat binnekort gekanselleer gaan word, keer terug na haar tuisdorp om haar hoërskool liefde, Buddy, terug te wen. Die enigste probleem? Buddy is getroud en die trotse pa van ʼn nuwe baba. Dit skeel Mavis blykbaar min.

Die hoogtepunte

Charlize. Charlize. Charlize. En Patton Oswalt.

Die humor is droog, vlymskerp en lewer bytende kommentaar op die samelewing. Ek is bevrees dit gaan wel nie toeganklik wees vir ʼn breër filmgehoor nie.

Young Adult kyk na ʼn groot probleem in moderne samelewing – individue wat nie emosioneel ‘grootword’ nie. Ons almal het so ʼn tipe vriend of familielied wat doen net wat hulle wil, nooit gelukkig is met die lewe nie en dink die wêreld skuld hulle iets. Wat Young Adult beweer is dat die fenomeen al hoe groter word, dat mense nie gelukkig is nie, net oorleef en niks daaraan doen nie.

Young Adult gee gelukkig ook geen antwoorde nie, dit gee jou bloot ʼn blik op hierdie mense se lewens. Ek sê ‘gelukkig’, oor die antwoorde op hierdie probleem kompleks is, te kompleks dalk vir ʼn filmregisseur om op te los, maar die moeite werd is om onder die soeklig te plaas.

Die laagtepunt
As filmresensent sien ek baie films en word ek blootgestel aan verskillende vorms/kwaliteit van draaiboeke, kamerawerk, karakterontwikkeling, ens. Dit is dus maklik vir my om die ‘film meriete’ inYoung Adult te sien. Ek sou ook bitter min aan die film wou verander. Tog besef ek die film is ongelukkig nie baie toeganklik vir ʼn breër gehoor nie. Dit is ʼn jammerte, want dit is ʼn onderwerp wat getakel moet word.

Vir wie sal ek dit aanbeveel?
Mense wat films kyk vir meer as blote ontspanning.

Opsommend
Young Adult is ʼn merkwaardige film, wat krities na ons samelewing se tekortkominge kyk en hierdie resensent vir dae lank daaroor laat wonder het.

Spelers: Charlize Theron, Patrick Wilson and Patton Oswalt
Regisseur: Jason Reitman
Skrywer: Diablo Cody
Tyd: 94 min

    Leave a comment

    Time limit is exhausted. Please reload the CAPTCHA.

Lucky Previous post Lucky
Total: