The Best Exotic Marigold Hotel

August 13, 2012

Die resensie is geskryf vir en eerste gepubliseer deur www.sarie.com

‘n Fliek vir jou, jou ma én jou ouma!

So paar weke terug dink ek dit wys om die besonderse Woody Allen-film, Midnight in Paris, aan te beveel aan ʼn vriend se bejaarde ma. Sy het Parkinsons en kan nie meer lekker beweeg of bestuur nie, maar met haar verstand makeer daar niks nie.

Die middag is ʼn reuse sukses. My keuse van film, asook die roomys wat na die tyd genuttig word, word hoog op die prys gestel. Voor ek my oë kan uitvee word my film-aanbeveling en die Saterdagmiddag fliek ʼn maandelikse instelling en groei die groep oues van dae wat aangery word. (My vriende is nou almal op die ouderdom waar ouma’s en ma’s se gesondheid begin lol.)

Nou voel ek nogal die druk om ʼn film te kies. Behalwe dat dit die ou tannies moet vermaak, verwag hulle ook ʼn sekere gehalte film. Moenie hulle beledig deur iets lafs soos ʼn ‘chick flick’ voor te skryf nie. O, nee, ek sal nooit die einde hoor nie. Boonop gaan my vriende saam en moet hulle ook deur die film sit.

The Best Exotic Marigold Hotel
 
gaan my reputasie as film-resensent extraordinare onder die ‘Ou Tannie Klub’ net goed doen.

Kyk net na die rolverdeling. Judi Dench, Maggie Smith, Tom Wilkinson en onder andere Bill Nighy in een film! Reg aan die begin van die verhaal sit die klomp oues so op ʼn streep en ek dink, Genade, dit is die ikone van die Britse filmbedryf, almal in ʼn netjiese rytjie.

In ʼn neutedop gaan die film oor ʼn groep Britse pensionarisse wat vir verskillende redes by die Best Exotic Marigold Hotel in Indië opdaag. Sommiges het finansiele probleme, ander soek liefde en een het selfs gekom vir ʼn heupvervanging. Natuurlik het die hotelbrosjure almal om die bos gelei en is die hotel meer ‘eksoties’ as wat verwag is.

Die film is komies, maar het diepte. Die drama is wel nie swaar nie. Jy’t nie ʼn vakansie nodig na die tyd nie. Die dialoog is skerp, maar nie onnodiglik kompleks of windmakerig nie. Almal haal uit en wys, maar Bill Nighy steel nogal die kollig met sy subtiele vertolking van die gawe, lojale Douglas.

Daar is dalk ʼn paar stereotipes (soos die gawe, kleurvolle Indiër diensmeisie en die anale, bleek Britse toeris), maar wie gee om vir ʼn stereotipe as die storie soveel hart en siel het.

So, vat dus jou ouma of jou ma om The Best Exotic Marigold Hotel te gaan kyk hierdie naweek. Jy gaan baie punte score.

    Leave a comment

    Time limit is exhausted. Please reload the CAPTCHA.

Young Adult Previous post Young Adult
Total: